Local newsNews

Weduwee soek afsluiting

Hendrik het die aand van 23 September vermis geraak toe hy van ’n familielid se huis na die woonstel gestap het.

“Ek het Kersfees en Nuwejaar vir die eerste keer in 20 jaar sonder my man en my sielsgenoot deurgebring en dít terwyl die persoon of persone wat hom vermoor het, nog steeds op vrye voet is om hul gang te gaan.”

Dit is die woorde van Hendrik van Dyk (46) se vrou, Elain (36) wat ‘n weduwee gelaat is nadat hy op 24 September, verlede jaar met ‘n skerp voorwerp doodgesteek en in ‘n sloot gegooi is.

Die voorval het slegs etlike meters van die woonstel waar Elain en Hendrik, wat vir 20 jaar getroud was, plaasgevind. Sy het intussen uit die woonstel, wat in Goodsweg geleë is, getrek.

“Dit was vir my bitter moeilik om elke dag vas te kyk in die plek waar my man se lewelose liggaam gevind is.”

Die vermoede is dat hy ook naby die plek, waar sy liggaam ontdek is, vermoor is aangesien Elain ‘n pantoffel van hom opgetel het voordat sy liggaam opgespoor is. (Man se lyk ontdek nadat vrou sy pantoffel raaksien).

“Die balkon van ons woonstel is basies reg oorkant die plek waar Hendrik vermoor is,” het Elain vertel.

“Dit was elke dag baie traumaties om net in daardie rigting te kyk en ek moes doodeenvoudig ‘n ander blyplek kry.

“Ek woon tans in Nigel en probeer maar om die stukke op te tel en aan te gaan. Ons het 14 jaar in daardie woonstel gebly en ons was gelukkig daar.

“Daardie woonstel was ons tuiste en veilige hawe maar dit het net onmoontlik geraak vir my om langer daar te bly.”

Sy is ook bitter omdat Hendrik nooit sy eerste kleinkind, wat slegs ongeveer twee weke na sy moord gebore is, kon ontmoet nie.

“Hendrik het baie uitgesien na die koms van ons enigste kind, Barend, se eersteling. Genevieve is op 11 Oktober gebore en Hendrik sou haar vreeslik bederf het,” het Elain gesê.


Hendrik van Dyk is op 24 September verlede jaar met ‘n skerp voorwerp doodgesteek.

“Sy sal nooit haar oupa ken nie.”

Volgens Elain word sy gereeld op hoogte gehou ten opsigte van die Brakpan SAPD se ondersoek in die saak.

“Ek het groot waardering vir die ondersoekwerk maar dit is tog frustrerend om te weet dat die moordenaar of moordenaars nog op vrye voet is.”

“Dit maak my ook bekommerd dat die skuldige of skuldiges nie aangekeer sal word, aangesien daar nou al soveel tyd verloop het sedert Hendrik se moord.

“Tog hoop en bid ek elke dag dat daar ‘n deurbraak in die saak sal wees en dat die skuldige persoon sal boet vir die moord.”


Hendrik en Elain se enigste seun, Barend saam met Genevieve, wat sowat twee weke na die moord gebore is en Genevieve se ma, Sunica.

Hendrik het die aand van 23 September vermis geraak toe hy van ’n familielid se huis na die woonstel gestap het.

Daar is op die oggend van 24 September ’n grootskaalse soektog na hom van stapel gestuur, waartydens ’n hommeltuig ook ingespan is.

Sy liggaam is ongeveer 12.30 in die sloot, wat met vuil water gevul was, ontdek. Hy het verskeie steekwonde aan sy liggaam gehad.

Enige iemand met inligting kan die Brakpan SAPD kontak by 011 744 4111.



ALSO READ: Egpaar helder oordag beroof

ALSO READ: KYK: Grypdief steel foon by Voortrekker duikweg

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button