Local newsNews

Ma besoek plek waar haar kind sterf na ‘n jaar

Die Herald het verlede jaar berig oor dié heldedaad wat Apie se lewe gekos het. (Man sterf by Brakpan “groot gat” toe hy tiener probeer red).

Dit het vir Evelyn Viviers (59) ’n jaar geneem om genoeg moed bymekaar te skraap om die plek, waar haar seun op 10 April 2023 oorlede is, te besoek.

Dié inwoner van Hamiltonlaan is verlede Woensdag vir die eerste keer na die groot oop gruisgat in Brakpan-Noord waar haar seun, Johan (Apie) Viviers (40) dood is toe hy ‘n tiener, wat in die gat af gegly het, probeer red het.

Die Herald het verlede jaar berig oor dié heldedaad wat Apie se lewe gekos het. (Man sterf by Brakpan “groot gat” toe hy tiener probeer red).

Apie was saam met vriende by die gruisgat toe ‘n tiener (toe 14 jaar oud) haar balans verloor en oor die rand van die gat gegly het.


Evelyn Viviers het die plek waar haar seun, Apie Viviers ‘n jaar gelede oorlede is vir die eerste keer besoek.

Toe die kind val, het Apie sonder om te skroom na die plek gehardloop en self teen die steil afgrond afgegly om haar te probeer red.

Apie is vinnig oor die rand van die afgrond en hy het sy rug en sy kop gestamp soos hy na benede geval het.

Hy het met sy gesig na onder in die water te lande gekom. (Die gat is gedeeltelik met water gevul).

Sy beste vriend Keith Fourie (34) wat ook teenwoordig was, het na ’n plek gehardloop vanwaar hy na sy vriend toe kon swem.


ALSO READ: ‘Groot gat’ in Brakpan-Noord eis nog ’n slagoffer


Hy het by Apie gebly totdat hulp opgedaag het. Nooddienswerkers het lank gepoog om Apie se lewe te red, maar hy is op die toneel dood verklaar.

Die tienermeisie, wat ook tot onder geval het, het ’n gebreekte sleutelbeen opgedoen het, het intussen herstel.

Keith het vir Evelyn op dié dag van die tragedie gebel en haar meegedeel dat daar ’n ongeluk was. Die tyding dat haar seun oorlede is, is later aan haar oorgedra. Apie het sy lewe lank by Evelyn gewoon en so ook sy seun, Dolfie (10) wat nog steeds in Evelyn se sorg is.

“Dit was vir my ’n moeilike jaar, maar ek het geweet dat ek een of ander tyd by daardie plek moet uitkom sodat ek ook ’n mate van afsluiting kan vind,” het Evelyn gesê.


Apie Viviers is dood toe hy ‘n tiener wat teen die styl afgrond afgegly het, probeer red het. Hy en sy seun Dolfie het graag saam visgevang.

Sy is deur Keith, Dolfie, haar suster Lulu van der Linde, wat spesiaal van Magaliesburg afgekom het, asook Dolfie se ma, Arnel Smith vergesel.

“Keith het vir my gewys presies waar Apie gegly het en hoe dit gebeur het. Dit was baie moeilik en hartseer vir my, maar in ’n mate het dit berusting gebring,” het Evelyn gesê.

Die groepie het blomme geplaas op die plek waar Apie na benede gestort het.

“Dolfie is nog baie hartseer oor sy pa. Hulle het ’n baie hegte band gehad en het gereeld saam visgevang,” het Evelyn vertel.

“Ek en Dolfie klou maar vas aan die mooi herinneringe wat ons van my seun en sy pa het. Dit is nie maklik nie, maar ons vat dit maar dag vir dag.”

Related Articles

 
Back to top button