Sonneveld Akademie skrywer doen dit weer
Die voormalige derde plek wenner van die Afrikaanse Wikipedia skryfkompeties sal nou 'n gedig in die Poort bundel te siene hê.
Marlizelle Burger, ‘n Graad 11 leerder aan Sonneveld Akademie, het weereens haar skryf-vernuf ten toon gestel in ‘n Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns skryfkompetisie.
Hierdie keer was dit die Poort skryfkompetisie, waar skoliere hul poësie, prosa en ‘n voorblad ontwerp vir die akademie se bundel kon inskryf.
Marlizelle het in die verlede aan die akademie se Afrikaanse Wikipedia skryfkompetisie deelgeneem en ‘n derde plek behaal met haar artikel oor Joseph Kennedy, die seun van voormalige Amerikaanse president John Kennedy. (Sonneveld leerder derde geplaas in Wikipedia skole kompetisie. 6 Februarie 2024).
Die keer het Marlizelle ‘n prosa en poësie stuk elk ingedien, sowel as ‘n voorblad ontwerp vir die Poort bundel, waarvan haar gedig Anorexia in die bundel opgeneem word.
“Toe ek die gedig geskryf het het ek die vorige aand saam met my gesin ‘n storie gekyk oor ‘n vrou se geveg met die siekte, en ek het besef ek wil mense bewus maak van die probleem,” het sy verduidelik.
Marlizelle hou nie hier op nie, en het weer ingeskryf vir die Afrikaanse Wikipedia skryfkompetisie, die keer met ‘n fokus op tektoniese plate en foutlyne. Haar motivering vir skryf lê daarin dat sy mal is oor leer.
“As ek iets nie verstaan nie doen ek navorsing. Ek is mal oor geskiedenis, en hou daarvan om daaroor op te lees,” het sy gesê.
“Ek sal definitief aanhou gedigte skryf, ek skryf ook gereeld gedigte in vir Conspirito en Del’Arte kunstefeeste.”
Skryf is nie haar enigste passie nie, aangesien sy ook teken met verskeie mediums. “Ek probeer wyd gaan met my mediums, ek hou van multimedia want dit verbeter jou vaardighede.”
Haar grootste ondersteuners is haar gesin, oumas, en ooms en tannies. Selfs die wat nie meer in Suid Afrika woonagtig is nie ondersteun haar. Haar Afrikaans en Engelse onderwysers is ook groot ondersteuners.
LEES OOK: Sonneveld Akademie kondig top 10 aan
Haar grootste inspirasie is haar ma, wat die mees georganiseerde lid van haar gesin is. “As dit voel of alles in my lewe uitmekaar val is my ma daar om dit bymekaar te hou,” het sy verduidelik.
Die kranige skrywer se grootste droom is om eendag ‘n lugtuig onderhoud tegnikus te word soos haar oupa, wie haar as kind baie vertel het van vliegtuie.
Andersins is siviele ingeneurswese ook ‘n groot droom, of ondersoekende joernalistiek. Marlizelle se gunsteling vak is ingeneursgrafika en ontwerp.
“Dis vir my die maklikste vak, al my ander vakke is moeilik, so IGO voel soos ‘n blaaskans en ‘n uitlaatvak.
“Ek is ‘n persoon wat eerder luister as praat, maar as ek met die hele wêreld kon praat sou ek sê moet nie opgee nie.
“As jy iets gekies het om te doen moet nie opgee as dit moeilik raak nie, want jy weet nie altyd wat jy alles kan doen nie,” het sy mee afgesluit.



