Local newsNewsSport

Jong sussies voltooi SPAR Women’s Run se Tshwane wedloop

Beide van die susters het persoonlike beste tye opgestel by die wedloop.

Melany (12) en Mikayla (10) Mans het Saterdag aan die SPAR Women’s Challenge in Tshwane deelgeneem en albei ‘n persoonlike beste tyd gehardloop in die 5km wedloop.

Die twee leerders aan Laerskool Brakpan-Oos hardloop vir die i-Run Club onder die leiding van Jared de Waal as afrigter.

Melany het vanjaar haar tweede SPAR Challenge voltooi en ‘n tyd van 18 minute opgestel. Mikayla het vir die eerste keer aan die wedloop deelgeneem, en in ‘n tyd van 19 minute en 22 sekondes voltooi.

Die wedloop self het nie vir die 5km afstand tyd gehou of plekke gedokumenteer nie, so die tye is deur die sussies se ma, Esmare Mans verskaf.

“Hulle geniet die hardloop klub baie en is altyd opgewonde om te gaan oefen. Dis vir hulle nie net oefening nie, dis soos hulle huis,” het Esmare verduidelik.

Die twee langasems gaan ook op 17 Augustus aan die Central Gauteng Athletics (CGA) Provincial Cross Country kampioenskap in Kagiso deelneem.

Hulle het ook aan die Carnival City Night Run, wat op 8 Augustus plaasgevind het, deelgeneem.

“Melany en Mikayla oefen ses dae ‘n week en gee altyd hulle beste as dit kom by kompetisies. Hulle het ‘n liefde vir die sport en het albei ook goed gevaar tydens hul skool se atletiek seisoen waar Melany tot by die D5-vlak gevorder het in die 1 200m item, en Mikayla het in die Gauteng finaal gehardloop waar sy ‘n 13de plek behaal het,” het Esmare vertel.

Hulle speel ook beide netbal en hokkie en doen landloop.



LEES OOK: TikTok collective shows kindness

LEES OOK: Ekurhuleni athletic club honours marathon runners

Related Articles

Back to top button