CrimeLocal newsNews

Moordenaar steeds op vrye voet ‘n jaar na gru moord in Goodsweg

Sy liggaam, wat verskeie steekwonde gehad het, is in 'n sloot digby die gesin se woonstel gevind.

‘n Jaar na die moord op Hendrik van Dyk (46) is die persoon of persone wat vir sy dood verantwoordelik is nog steeds op vrye voet.

Sy weduwee, Elain (37) hou egter steeds vas aan die hoop dat sy eendag die skuldige persoon of persone in die oë kan kyk.

“Ek het nog nooit moed opgegee dat die skuldige persoon aan die pen sal ry nie en ek sal ook nie rus vir my siel vind voordat iemand geboet het vir die wrede wyse waarop my man, met wie ek 20 jaar getroud was, gesterf het,” het Elain gesê.

“Ek sal dan vir daardie persoon vra of hy of sy ooit gedink het dat hulle daarmee sou wegkom om my man te vermoor,” het sy gesê.

“Die waarheid kom altyd uit; somtyds neem dit net langer. Die hartseer wat sy sinnelose dood vir ons gebring het sal nooit weggaan nie.”

Elain vertel dat sy nog gereeld met die ondersoekbeampte in die saak in verbinding is en sy glo vas dat die saak opgelos sal word.

Hendrik het die aand van 23 September 2023 vermis geraak toe hy van ’n familielid se huis na die gesin se woonstel in Goodsweg gestap het.

Daar is op die oggend van 24 September ’n grootskaalse soektog na hom van stapel gestuur, waartydens ’n hommeltuig ook ingespan is.

Sy liggaam is ongeveer 12:30 in ‘n sloot, wat met vuil water gevul was, ontdek. Hy het verskeie steekwonde aan sy liggaam gehad.


Hendrik van Dyk se moordenaar of moordenaars is nog op vrye voet.

Die plek waar hulle sy liggaam gevind het, was net oorkant die pad van die woonstel, waar Elain en Hendrik en hul enigste seun, Barend (19) vir jare gelukkig gewoon het.

Elain het na die voorval na Nigel verhuis waar sy steeds woon.

“Dit was vir my bitter moeilik om elke dag vas te kyk in die plek waar my man se lewelose liggaam gevind is.”

‘n Ander ligpunt in haar lewe was die geboorte van haar kleindogter Genevieve, wat sowat twee weke na die moord gebore is.

“Hendrik het baie uitgesien na die koms van sy eerste kleinkind en dit maak ons hartseer dat Genevieve nooit haar oupa sal ken nie.”


LEES OOK: Weduwee soek afsluiting


Elain vertel sy het ook sy ‘n nuwe liefde in haar lewe en dat dit presies is wat Hendrik sou wou hê.

“Ons het altyd vir mekaar gesê indien een van ons sou doodgaan, moet die ander een aanbeweeg en weer iemand vind om mee gelukkig te wees,” het sy vertel.

“’n Mens praat oor dié dinge maar jy besef nie eintlik dat dit eendag binne ‘n oogwink ‘n werklikheid kan word nie. Tog laat Hendrik ‘n groot leemte in my, Barend en my skoondogter Sunica Brink se lewe.

“Sy eie familie mis hom ook steeds en ons sal almal aanhou hoop dat iemand eendag gestraf sal word vir die moord wat ‘n liefdevolle man uit ons lewens geruk het,” het Elain gesê.

Die ondersoek duur steeds voor en enigiemand wat inligting het kan die Brakpan SAPD by 011 744 4111 kontak.




LEES OOK: OPVOLG: Hendrik van Dyk se moordenaar nog op vrye voet

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button