Anker netbalspeler pak ook tasse vir Dubai toernooi
Die netbalspeler gaan saam Schiné Clark deelneem aan die jeug kategorie van die Dubai Sewes Toernooi.
Dantey Smith, ‘n Graad Nege leerder aan Hoërskool Die Anker, gaan aan die einde van die jaar saam met haar medeleerder, Schiné Clark na Dubai reis vir die Dubai Sewes Netbaltoernooi, wat vanaf 27 November tot 3 Desember plaasvind.
Die Herald het verlede week oor Schiné Clark berig (Anker leerder sien uit na die Dubai toernooi).
Dantey het onlangs eers uitgevind dat sy ook gaan, maar is opgewonde vir haar eerste reis oorsee.
Sy het die afgelope week by die Bokkie Week gespeel. Sy speel al vanaf Graad Een netbal, en het selfs mini-netbal voor skool gespeel.
Buiten dit beoefen Dantey ook atletiek en neem sy deel aan 100m en 200m naellope, sowel as 300m hekkies en soms aflos.
Dantey het die jaar selfs SA’s gemaak met haar atletiek, onder die leiding en afrigting van haar pa, Deon Smith.
Die kranige atleet doen goed van die veld af ook, met akademiese vernuf wat nie top plekke verseker nie, maar met genoeg onderskeidings om gemaklik te wees.

Op die vraag oor wat haar gunsteling vak is, sê sy: “Definitief nie wiskunde nie. Ek dink volgende jaar, as ek vakke kies, gaan dit gasvryheid en toerisme wees, maar vir nou is dit besigheidstudies.”
Vir ‘n loopbaan beoog Dantey om sport professioneel na te streef, maar as dit nie uit werk nie sal sy ‘n sportwetenskaplike wil word, of ‘n onderwyser in die LSEN veld.
Dantey is goed met konflik en geduldig en empatiek, wat sy glo haar sal toelaat om gestremde kinders goed te ondersteun.
Sy hanteer gereeld konflik in die netbalspan, is ‘n klasleier, en neem deel aan aktiwiteite saam met haar span.
LEES OOK: Taxi rank gets a Clean Brakpan makeover
Hulle het as ‘n span saam aan Mnr en Mej Anker deelgeneem vir die lekkerte, en ten spyte daarvan dat Dantey ‘n “tomboy” is het sy die skoonheidskompetisie gewen.
Sha’Carri Richardson is haar grootste inspirasie. “Sy is baie kragtig, maar ook beskeie. As sy spog is dit verdiend, en sy doen naellope soos niks. Sy was ook nie altyd die beste nie, maar het deur harde werk wêreldkampioen geword,” het sy verduidelik.
Fillipense 4:13 is Dantey se leuse, omdat sy glo sy is tot alles in staat deur God.
Dit het haar gedra deur ‘n tydperk waar sy moes herstel van beserings en bronchitis wat sy in Graad Sewe opgedoen het, waarvoor sy nou nog ‘n asma-pompie en enkelstutte moet gebruik.
Dantey se raad is dat dit `okay’ is om nie okay,te wees nie. “Alles gaan nie altyd perfek wees nie, so dis okay om te sukkel,” het sy gesê.
Belangstellendes wat Dantey wil help om by Dubai uit te kom vir die toernooi kan haar ma, Odette Smith by 066 079 5842 kontak.
LEES OOK: Moordenaar steeds op vrye voet ‘n jaar na gru moord in Goodsweg



