Anker verskyn op Maak my ‘n Miljoenêr
Die Graad 11 leerder is in die top 30, uit meer as 50 000 leerders gekies.
Jano Havenga, ‘n Graad 11 leerder aan Hoërskool Die Anker, het sy skool trots gemaak met sy onlangse verskyning op die ViaTV reeks, Maak My ‘n Miljoenêr.
Dié jong entrepreneur het op die sewende episode, wat op 9 Oktober uitgesaai is, verskyn in die ‘brandbank’ uitdunronde, waarna hy verkies is tot die top 30 deelnemers.
Maak My ‘n Miljoenêr is ‘n reeks wat vir hoërskool entrepreneurs die geleentheid gee om hulle besigheid vir beoordelaars aan te bied en te leer hoe om ‘n suksesvolle besigheid te bou.
Jano het die beoordelaars, Albert van Wyk, Marcius van Antwerp, Shaniqua Steenkamp, Lisa van Rooyen en Reinhard du Plessis beïndruk met sy voorlegging.
Hy is onder die 30 leerders van regoor die land wat gekies is uit meer as 50 000, en beweeg aan na die volgende ronde waar deelnemers oplossings moet vind vir regte wêreldprobleme wat opduik in bestaande besighede.
“Ons het vertroue in Jano om die top 20 te haal. Om die top 30 te haal is bewys van sy talent en harde werk, asook deursettingsvermoë en passie vir entrepreneurskap,” lees die skool se verklaring.
LEES OOK: Dalview leerders erken vir top punte in derde kwartaal
LEES OOK: Brakpan Soup Kitchen now serves five schools and hundreds of beneficiaries



