Oud-predikantspaar vier 60ste huweliksherdenking
Geloof is hierdie egpaar se geheim tot hul lang en gelukkige huwelik.
Nie elke verhouding deurstaan die toets van tyd nie maar Marie (79) en Henri (84) Horn laat ‘n mens weer in liefde glo.
Dié bekende egpaar en jarelange inwoners van Dalview het op 5 Desember hul 60ste huweliksherdenking gevier.
Die twee het mekaar in 1963 in Pretoria ontmoet en volgens Henri was dit liefde met eerste oogopslag – wel, net vir hom.
Hy het ongeveer vir 10 maande lank na Marie gevry en vir haar briewe geskryf voordat sy uiteindelik besef het dat sy tog van hom hou.
Vandaar was die spreekwoordelike koeël deur die kerk. Hulle was eers vir ses maande gekys voordat hulle verloof geraak het en het agt maande daarna ewig trou aan mekaar beloof.
Hulle groot dag het op 5 Desember 1964 in die Vrystaatse dorp, Heilbron plaasgevind. Hulle het later na Dalview verhuis waar Henri vir 28 jaar lank die leraar van die NG Brakpan-Wes gemeente was.

Die egpaar het deur die jare diep spore in die dorp getrap en op verskillende wyses hul deel vir die gemeenskap gedoen.
Hoewel Marie self baie betrokke by die kerk was, het sy vir tien jaar as administratiewe beampte by die CMR kantore (nou Tutela) in Brakpan gewerk. Uit die huwelik het hulle vyf kinders, vier kleinkinders en een agterkleinkind.
Hoewel daar vele goeie tye was, moes dié egpaar al baie meer as net sewe sakke opeet, met dié dat hul ‘n kind aan die dood moes afstaan, sowel as beide van hulle wat al kanker in die gesig moes staar.
Hulle erken dat geloof ‘n baie groot rol in hul lang en gelukkige huwelik speel.
“Ek sou sê opregte liefde, omgee en begrip vir mekaar is net so belangrik. Ons verskil oor baie dinge maar ons maak nooit van verskille geskille nie en dit is alles net die Here se genade,” sê Henri.

Hoewel die egpaar dit nie genoem het nie, was dit ooglopend dat fisiese aanraking beide se liefdestaal is.
Dit is duidelik dat hulle onafskeidbaar is met die dat hulle konstant hande vashou en die een se hand op die ander se been was, nes ‘n jong verliefde paartjie.
Volgens Henri en Marie noem hulle mekaar nooit op die naam nie en dat hulle noemnaam vir mekaar Liebling is – die Duitse woord vir liefling.
Die Horn egpaar se raad aan jong getroudes is om goeie kommunikasie te handhaaf.
“Jy moet ook sorg dat jy en jou maat die Here ken, want as jy die Here ken kan Hy jou probleme help uitsorteer en jy kan altyd by Hom raad kry,” vertel Marie.
Na die groot opskop met hulle 50-jaar huweliksherdenking het hulle vanjaar besluit om die herdenking op ‘n meer intieme manier te vier met ‘n heerlike ete saam met hul kinders en kleinkinders.
LEES OOK: Love, marriage and (someone else’s) children
LEES OOK: A gem of a couple celebrates 65 years of marriage



