Fig on the Rock bekroon as een van SA top 10 koffiewinkels
Die toekennings gee erkenning aan restaurante wat streef na uitnemende diens en bydra tot die restaurantbedryf.

Fig on the Rock Koffiewinkel in Dalview is gedurende Desember as een van Suid-Afrika se top 10 koffiewinkels en bistro’s bekroon tydens die gesogte RASA Rosetta toekennings.
“Dit is ’n ongelooflike prestasie wat wys dat kulinêre uitnemendheid nie net aan groot stede behoort nie, maar hier in ons eie gemeenskap blom,” het die trotse eienaar Rohan du Buson gesê.
Fig on the Rock is nie net bekend vir sy roosterkoek, heerlike koeke en topklas koffie nie. Dit is ook die gasvryheid en warmte wat elke besoeker onmiddellik tuis laat voel, wat die plek spesiaal maak.
Wat dit nog meer besonders maak, is die pragtige vyeboom wat uit ’n rots op die perseel groei; ’n simbool van hoe skoonheid en sukses in die mees onverwags plekke kan floreer. Vandaar ook die naam van die koffiewinkel, wat nou al ‘n huishoudelike naam in die dorp is.
“Hierdie erkenning is ’n groot mylpaal vir my en my toegewyde span, wat dag na dag alles gee om die beste ervaring te bied,” het Rohan gesê.
“Dit is ook ’n viering van die gemeenskap wat Fig on the Rock ondersteun en laat groei het tot wat dit vandag is,” het hy bygevoeg.
“Hierdie toekenning is ‘n bewys dat harde werk, passie, en ’n sterk gemeenskapsgees saam beslis ‘n wenresep is,” het Rohan mee afgesluit.
Die RASA Rosetta toekennings is ‘n gesogte toekenning wat aan restaurante in Suider-Afrika gegee word wat uitnemendheid in die restaurantbedryf toon.
Die toekennings gee erkenning aan restaurante wat streef na uitnemende diens en bydra tot die restaurantbedryf.
LEES OOK: Geliefde dokter se afsterwe laat groot leemte
LEES OOK: Young woodworker carving out a bright future