Local newsNews

Brenthurst inwoner se nalatenskap van liefde en omgee leef voort

Sy was altyd daar vir haar famile en gemeenskap.

‘n Inwoner van Brenthurst Dirkie Claassens (81), wat alom bekend was vir haar groot gesin en betrokkenheid by die gemeenskap, is op 24 Januarie oorlede.

Dirkie was ‘n ma van nege, waarvan twee oorlede is, ouma van 25, ouma grootjie van 42 en agter-ouma grootjie vir vier.

Sy laat ook ‘n suster en ‘n groot uitgebreide familie na.

Dirkie se dogter, Belinda Groenewald, het met die Brakpan Herald gesels oor haar ma, wat volgens haar ‘n steunpilaar was, beide vir haar familie en gemeenskap.

Dirkie was ‘n verpleegster vir ouetehuise en was baie betrokke in al die tehuise in die dorp.

Sy was ook ‘n toegewyde kerkganger en het altyd bygedra tot kerkgeleenthede en etes.

Vir haar klein, agter-klein en agter-agter-klein kinders het sy altyd koekies en koek gebak, en sy het dit geniet om te kook, hekel, brei en naaldwerk te doen.

Dirkie word onthou as ‘n streng vrou, met ‘n groot hart, wat as raadgewer en vriendin vir haar familie opgetree het.

Voor haar afsterwe was sy nog heel positief en vol lewe, maar weens komplikasies na ‘n operasie is sy onverwags oorlede.

“Sy het nog vir ons gesê sy gaan daar uitkom, en sy het toe, maar sy is net daarna oorlede,” het Belinda verduidelik.

“Sy was die soort mens wat nooit nee gesê het nie, en was altyd daar vir alles en almal.”

Haar begrafnis vind vandag (10 Februarie) plaas by die NG Moedergemeente, maar sal ‘n privaat geleentheid wees.

Twee van haar agter-klein kinders, Revian Labuschagne en Alex Nienaber is onlangs vir Hoërskool die Anker se rugby toer span gekies.

Dit sou haar baie trots sou maak, volgens haar ander dogter, Ester Truter.

Nog ‘n agter-klein kind, Ronan Nienaber is in Graad 11 aan die Hoërskool Stoffberg.

“My moeder het elke aand langs my gelê en lekker gesels, ek mis die leemte langs my baie,” het Ester verder gesê.

“Ons laat haar in rus en vrede gaan, maar sy sal ook altyd by ons bly,” het Belinda mee afgesluit.

Lees ook:  Brakpan Herald 7 February 2025

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button