Local newsLocal sportNews

Brakpan Rugbyklub verstewig momentum met oorwinnings oor Sibanye Stillwater

Daar word reeds hard gewerk aan voorbereiding vir Saterdag se kragmeting wat tuis gspeel word.

Die Brakpan Rugbyklub het die afgelope naweek voort gebou op die momentum van hul eerste wedstryde in die Castle Superreeks en al drie hul wedstryde teen Sibanye Stillwater gewen.

Brakpan het na Rustenburg gereis vir dié kragmeting, waar die eerste span uiteindelik moes klaarkom sonder ses van hul spelers.

Die kaptein, Ruben Beytell asook Louis de Bruin, Keagan Balfour, Danny Keyser, GP Bezuidenhout, Justice Nkombua en Fanna Botha was nie beskikbaar vir die eerstes se wedstryd nie.

Die span kon egter na ‘n klipharde 80 minute op die veld daarin slaag om ‘n wen van 26-25 aan teken.

Vier drieë deur Xander Marais, Zamian Martin, Henry Pike en Thinus Ueckermann, waarvan drie verdoel is deur Kyle Benadie, het vir Brakpan se punte gesorg.


Xander Marias was die eerste span se Speler van die Wedstryd. Foto: Manie du Plessis

Die tweede span het met 38-10 gewen en die o-21’s het ‘n goeie oorwinning van 38-10 aangeteken.

Eerskomende Saterdag vind ‘n groot kragmeting plaas wanneer Brakpan in hul derde ronde van die Castle Super Reeks teen die Northam Rhinos, die nommer twee klub in die land, sal uitdraf.

“Ons is reeds hard besig met voorbereiding en ons het volle vertroue in ons afrigters en spelers,” het Frikkie Bosman, voorsitter van die Brakpan rugbyklub gesê.

“Ons gaan dit beslis nie maklik maak vir die Northam Rhinos nie en as die nie-gunstelinge kan ons dalk net ‘n verrassing oplewer,” het Bosman bygevoeg.

“Ons hoop om ‘n volgepakte paviljoen te sien met ‘n skare wat bankvas agter Brakpan staan.”


Hugo Claassen gee die bal uit tydens die tweede span se wedstryd. Foto: Manie du Plessis

Bosman het ook bygevoeg dat Saterdag beslis ‘n dag vir die hele gesin sal wees om te geniet.

“Ons gaan verskeie kompetisies en vermaak aanbied en die toegangsfooi is verminder tot R10 per persoon en R10 per voertuig. Skoliere se toegang is gratis.

“Alle hekgelde (tot R5 000) sal geskenk word aan die plaaslike skool wat die meeste verteenwoordiging het.

“Ons gaan ook deur die loop van die dag opwindende kompetisies aanbied en pryse ter waarde van R10 000 weggee,” het Bosman bygevoeg.

Persone wat van die oop paviljoen gebruik gaan maak, word aangeraai om ‘n hoed of sambreel saam te neem. Die o21-span se wedstryd begin om 13:00, die tweedes draf om 14:30 op die veld en die eerstes se wedstryd skop om 16:00 af.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button