Brakpan Rugbyklub staan trots na uitdagende Castle Super-liga seisoen
Die Northam Rhinos was die wenners van die Castle Super reeks.

Brakpan Rugbyklub eerste span het Saterdag teen die Northam Wolves uitgedraf vir die uitspeel wedstryd vir die derde en vierde plekke van die Castle Superliga reeks, wat nou afgehandel is.
Dit was ‘n harde wedstryd, wat die telbord na enige kant toe kon swaai maar in die doodsnikke van die wedstryd het die Wolwe daarin geslaag om ‘n laaste drie te druk wat die eindtelling bepaal het. Die Northam Wolves het met 38-31 vir hulself die derde plek in die Castle Superliga reeks beklink.
Brakpan se drieë is deur Brandon Swart (2), Keanu Thomas, Brandon Smit en Martin van Wyk aangeteken. Ruben Beytell en een drie verdoel en Kyle Benadie het met twee doelskoppe geslaag.
Die wenners van die Castle Super reeks was die Northam Rhinos, wat in die finaal met die Naka Bulle afgereken het. Die voorsitter van die Brakpan Rugbyklub, Frikkie Bosman het gesê die bestuur van die klub is trots op wat die spanne vermag het gedurende die Castle Super reeks.

“Ons het drie van die top vyf oop klubs in Suid-Afrika die afgelope drie weke gespeel en behalwe vir die Naka wedstryd was ons beslis opgewasse teen die res,” het Bosman gesê.
“Die Castle Super liga was ‘n harde liga en dit het ons die geleentheid geskep om goed voor te berei vir die opkomende ligas, “ het Bosman bygevoeg.
“Die klub en die spelers is op die regte pad en ons sien uit na die res van die seisoen. “Ons is besig om met samewerking en spanwerk te bou aan ‘n klub wat nie sal terugstaan vir enige uitdaging nie.”
Voorbereidings vir die President Liga, wat op 5 April afskop, is reeds aan die gang.
ALSO READ: Kaléo gemeente vier 50ste bestaansjaar
ALSO READ: Taalprys vir oud-Anker met unieke meesters proefskrif