Local newsNews

Egpaar vier 60 jaar van liefde en kameraadskap

Anna, wat haar loopbaan as 'n skakelbordbeampte in die parlement begin het, en Kobus, wat verantwoordelik was vir die proeflees van Afrikaanse advertensies vir Old Mutual, het vir 17 jaar in Pretoria gewoon.

Kobus (82) en Anna (80) van den Berg het 60 jaar van liefde en kameraadskap op 3 April gevier, nadat hulle in 1965 in Kaapstad getrou het.

Hierdie mylpaal is nie net ‘n viering van hul lang en gelukkige huwelik nie, maar ook van ‘n lewe wat saam deurgestaan is in die bediening en in mekaar se geselskap.

Anna, wat haar loopbaan as ‘n skakelbordbeampte in die parlement begin het, en Kobus, wat verantwoordelik was vir die proeflees van Afrikaanse advertensies vir Old Mutual, het vir 17 jaar in Pretoria gewoon.

Hulle woon nou al vir die afgelope 25 jaar in Brakpan, waarvan hulle vir 12 jaar in die pastorie van hul kerk gebly het. Die egpaar se tuiste is nou in ‘n woonstelblok in Brakpan-sentraal waar hulle nog elke dag in liefde saamleef.

Die geheim tot ‘n gelukkige en langdurige huwelik sluit volgens Kobus die volgende in: “Dien saam die Here, ondersteun mekaar altyd, moenie mekaar afbreek nie, en verdra en vergewe mekaar altyd.

Die egpaar was vir 46 jaar in die voltydse bediening, Kobus as pastoor en Anna as berader. Beide verskaf steeds berading, maar geniet nou hul tyd saam.


LEES OOK: Taalprys vir oud-Anker met unieke meesters proefskrif


Gedurende daardie tydperk het hulle baie saam en apart gereis regoor die wêreld vir sendingwerk. Hulle was in 25 lande oor die 20 jaar wat hulle sendingwerk gedoen het, baie daarvan in Afrika.

Anna se gunsteling plek waarheen sy al gereis het, is Italië. Sy vertel van die nou paadjies in Napels, waar spieëls teen die hoeke aangebring is vir die bestuurders om te kan sien of daar aankomende verkeer is.

Milan is volgens die twee ‘n baie duur en besige stad, en hulle verkies die Italiaanse platteland oor die stede. ‘n Ervaring wat vir Kobus bygebly het, is om met ‘n kanoe in die Blou Grot, ‘n seegrot wat net met laaggety bereikbaar is, in te roei.

“As jy wil ingaan, moet jy wag tot die water terugtrek en dan vinnig in roei. Binne is die akoestiek so goed dat die kanoe-roeiers vir dames liefdesliedjies sing, en die water is so skoon en helder dat mens die vissies kan sien swem,” het hy vertel.

Anna het een keer die Blou Grot besoek, maar dit was vir haar angswekkend, so die tweede keer wat Kobus gegaan het, het sy dit nie mee gemaak nie.


LEES OOK: CoE emphasises food safety and warns against tampered expiry dates


In die Alpe in Switserland het Anna haar balans verloor, en Kobus het haar betyds gevang om haar lewe te red, aangesien sy op ‘n gletser sou val wat haar ernstig kon beseer.

Kobus se stokperdjie is fotografie, en Anna hou daarvan om woord-soek-raaisels te voltooi. Sy het ook porseleinpoppe versamel van waarookal hulle gereis het, en het op ‘n stadium 108 poppe gehad, maar sy het so ‘n tydjie gelede 70 van hulle verkoop.

Kobus word deur ander beskryf as ‘n geleerde, met vier teologie-grade, ‘n teologie-nagraadse kwalifikasie, en kwalifikasies in sielkunde, joernalistiek en publieke administrasie.

Tog probeer hy nederig bly en verkies hy om in algemene taal met mense te gesels. Anna het gekwalifiseer in Sondagskool en kinderbediening, sowel as spysenier- en onthaalkunde, waarvoor sy vir albei ‘n diploma het. Sy is ook in haar eie woorde ‘n fantastiese smous, en baie van die fondse vir hul sendingwerk is deur haar ingesamel.

“Kobus sê altyd dat ek ‘n tweedehandse ding vir ‘n nuwe een se prys kan verkoop. Ek het een keer ‘n koekverkoping gedoen in Pretoria by ‘n markdag, en teen 09:00 moes ek my vriendin vra om my man te bel om my te kom haal, want ek was uitverkoop,” het sy gegrap.

Die twee het op 5 April hul mylpaal met familie en vriende gevier.

“As ons almal kon nooi wat ons wou, sou ons ‘n stadsaal moes huur,” het Kobus gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button