Local newsNews

Verdwaalde hond vind na dae in die strate sy pad terug huis toe

Vrywilligers het om die beurt wag gehou by die lokval, maar Tiger was nie van plan om homself te laat vang nie.

Die toewyding en besorgdheid van ’n groep mense vir ’n hond, wat verdwaal het en vir dae lank kilometers van sy huis verward in die strate rondgedwaal het, het uiteindelik’n gelukkige einde gehad.

Op 6 April het Tiger, ’n Rottweiler kruising, by sy eienaars se hek in Victorstraat, Sherwood Gardens, uitgeglip toe die huismense besoekers gehad het.

Volgens Caroline Gama (68), wat al agt jaar lank vir Tiger sorg, het hy voorheen ook al uitgeglip, maar altyd gou teruggekeer na sy huis waar hy goed versorg word. Hulle het voorsorgmaatreëls aangebring om dit te probeer vermy.

Op daardie dag het dinge egter skeefgeloop, en die hond is eers dae later in Dalview, in die omgewing van Perry’s Supermark, opgemerk.

Sanette Bosman, stigter van Sunny’s Pet Outreach Team (SPOT), het op 13 April ’n inskrywing op Facebook geplaas waarin sy versoek het dat mense nie moet poog om die verwarde hond te vang of keer nie, aangesien dit hom verder verwilder en daar was toe reeds ’n aksie plan in plek.

“Ons het op daardie stadium nog nie geweet aan wie die hond behoort nie. Ná die inskrywing het ‘n buurman van Tiger se eienaars, Giovanni Scamuzzi, met my in aanraking gekom en my in kontak gesit met hulle,” het Sanette vertel.


Van die inwoners wat deurentyd op die uitkyk was vir Tiger en hand bygesit het waar hulle kon is Belinda Human, Benita Caldeiram en Shavon Everett. Tweede van links is Sanette Bosman van SPOT en langs haar staan, Caroline Gama wat baie bly is dat Tiger weer by die huis is.

“Tiger was baie verwilder en het nie toegelaat dat enigiemand sommer te naby hom kom nie. ’n Groep mense het gehelp om kos uit te sit vir Tiger, en ons het selfs ’n hok wat as lokval sou dien, in plek gekry om hom te probeer vang,” het sy bygevoeg.

Vrywilligers het om die beurt wag gehou by die lokval wat op 26 April opgestel was, maar Tiger was nie van plan om homself te laat vang nie.

“Ons het selfs ’n WhatsApp groep geskep sodat ons mekaar kon inlig oor die plekke waar hy opgemerk is.”

Vroegoggend op 28 April, gebeur daar ’n wonderwerk toe Tiger, sonder enige hulp sy pad huis toe terugvind het. Caroline se verbasing was groot toe sy haar ander hond hoor blaf en sien dat Tiger voor die hek wag om ingelaat te word.

“Indien ‘n mens in ag neem dat die afstand tussen Dalview en Sherwood Gardens sowat 8km is, is dit ’n wonderwerk dat Tiger sy pad huis toe kon vind na amper ‘n maand op straat,” het Sanette gesê.

Caroline was verheug om haar hond by die huis terug te hê.

“Ons het vir Tiger van babatyd af, en hy is soos ’n kind vir ons,” het sy gesê.


LEES OOK: Help Brakpan DBV om diere warm te hou


Sy het haar dank uitgespreek teenoor almal wat betrokke was by die poging om Tiger weer veilig huis toe te bring. Sanette het dit beskryf as spanwerk tussen ’n groep diereliefhebbers wat eenvoudig geweier het om op te gee.

“Hierdie hond het werklik die gemeenskap bymekaar gebring. Daar is so baie mense wat ‘n rol gespeel het, maar bedank veral my seun Brandon, Daleen Richter en haar seun Alrico, Belinda Human, Shavon en Grant Everett, Irene Shahahan, Adriaan en Annette Schoeman, Belinda Muller asook Nadine en Warren Sharp wat almal onverpoos gehelp het; hetsy deur kos uit te sit, die lokval dop te hou, of my op hoogte te hou” het Sanette gesê.

Sy het bygevoeg die eienaars en personeel van Perry’s Supermark was baie behulpsaam en Dalvet Dierekliniek was gereed om in te gryp indien nodig. Cheryl Barrie het Tiger se sterilisasie en mikroskyf inplanting, wat op 6 Mei plaasgevind het, geborg.

• SPOT is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie.

Hul doelwit is om verantwoordelike troeteldier eienaarskap te bevorder deur middel van opvoeding en bystand, en om wreedheid, verwaarlosing of mishandeling van diere te voorkom.

Vir meer inligting, besoek SPOT op Facebook: SPOT – Sunny’s Pet Outreach Team NPC – Brakpan.


LEES OOK: Follow-up: CoE engages Samwu on EMPD pre-dismissal notices


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button