Local newsNews

Die Brakpan Kunswedstryd se reis deur die jare

Die kunswedstryd bestaan al sedert die vroeë 80s, en is hoofsaaklik 'n platform vir skoolkinders om hul kuns en kultuur op te skerp.

Die Brakpan Kunswedstryd bied jaarliks ’n platform waar leerders en volwassenes hul kreatiwiteit en kunsvaardighede in verskeie vorme kan demonstreer. Dit is ’n platform wat kreatiwiteit en kultuurbewustheid bevorder.

“In die vroeë tagtigerjare was daar nie ’n kunswedstryd in Brakpan nie. Leerders wat aan ’n kunswedstryd wou deelneem, moes by Boksburg, Benoni en Springs inskakel.

“Die hoofde van Brakpan-skole het toe besluit dat Brakpan sy eie Kunswedstrydvereniging moet kry,” vertel Elmarie Warnick, die huidige voorsitter.

In daardie jare was Hoërskool Hoogland die enigste skool met musiek as ’n studierigting, en die destydse hoof, Louis Botha, is gevra om ’n vergadering tussen die skole byeen te roep om te kyk of ’n vereniging gestig kon word.

Nadat hy die onderwysers van Brakpan saamgeroep het, is daar in Februarie 1983 die Brakpan Kunswedstrydvereniging (BKV) in die skoolsaal van Hoërskool Hoogland gestig.


A boy in a green jacket is standing on a stage.
Shane Steyn van Laerskool Brakpan-Oos neem deel aan redenaars.

Louis Botha was die eerste voorsitter, maar ander stigters wat ’n groot bydrae gemaak het, is Rosie Marks, Marieta Esterhuizen, Elizabeth Heyser, Lulu Myburgh, Diane Schneiders, Des Ross, Elize de Jager en Marietjie Goller.

Die kunswedstryd het oor die jare baie uitblinkers voortgebring, soos Estelle Botha en Lanie Badenhorst, wat albei operasangeresse geword het. Louis Britz het ’n gospel-sanger geword, en Wilmie van der Sandt het deurgedring na die nasionale vlak as sangeres en komponis.

Daar was ’n wye verskeidenheid kunsafdelings om aan deel te neem, soos musiek en sang in Afrikaans en Engels, kuns, skryfkuns, volkspele en kore. Later is ’n afdeling vir radiodrama bygevoeg, asook ’n afdeling vir seniors (60+).

Die oudste deelnemer was Phil Bells, wat in haar 80’s was, en sy het ’n goue diploma vir skryfkuns ontvang. Beoordeling is in die vroeë jare by die skole gedoen, en die pryswennerskonsert is in die stadsaal aangebied.

Dit was ’n baie feestelike geleentheid, waarby die Brakpanse Mannekoor onder leiding van Chris Botha ook opgetree het. Aan die einde van die aand was daar ’n massa-kooroptrede.


LEES OOK: Rand Water begins critical maintenance today: Expect low pressure and supply interruptions


Volgens een van die stigterslede, Rosie Marks, nou al in haar 80’s, was dit ’n fenomenale geleentheid wat sy tot vandag toe nog kan onthou.

As gevolg van die hoë standaard en goeie organisasie was dit nie lank daarna voordat buurtdorpe begin het om in te skryf nie.

Vir ongeveer 20 jaar het die kunswedstryd jaarliks plaasgevind, maar daar is besluit om dit tweejaarliks te hou om skole die geleentheid te gee om in die alternatiewe jare hul revues op te voer.

Vir vyf jaar is die kunswedstryd glad nie aangebied nie, weens onder andere die Covid-19-pandemie, asook die bedanking van die volle bestuur weens aftrede, verhuising en meer.

Die nuwe bestuur het in 2023 ingetree en dié tyd gebruik om voor te berei en aanpassings te maak. Vanaf 2024 is die BKV weer volstoom aan die gang.

“Dit gaan goed en ons is vol op spoed met die kunswedstrydseisoen,” vertel Elmarie.


Elmarie Warnick, die huidige voorsitter van die vereniging.

Die BKV se missie is nie om te wen of ’n prys te verower nie, maar om mekaar tot ’n hoër standaard aan te moedig. Die kunswedstryd is tans nie by enige nasionale instansies geregistreer nie, maar is in die beplanningsfase om by die Suid-Afrikaanse Kunstevereniging (SAK) te registreer.

Items wat tans deur die kunswedstryd aangebied word, is: drama Afrikaans, drama Engels, redenaars en public speaking, dans, ligte musiek instrumentaal, ligte musiek vokaal, skryfkuns en art of writing, visuele kunste, kore, cheerleading en tonele of one-act plays.

Enigiemand van Graad R tot volwassenes is welkom om in te skryf, aangesien daar kategorieë is vir elke ouderdomsgroep en vaardigheidsvlak.

Inskrywings geskied aanlyn via die webblad www.brakpankunswedstryd.co.za, en inskrywingsvorms en riglyne is beskikbaar op die webtuiste en Facebook-blad.

Skole kan ook groepe inskryf. Inskrywings vir 2025 is tans gesluit, maar ’n volledige sillabus is beskikbaar op die webtuiste, wat die program vir die jaar bevat.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button