Kundige beoordelaar verduidelik wat ’n wen-item in kunswedstryde maak
Rosie Marks was een van die stigterslede in 1983 toe die Brakpan Kunswedstryd begin is.
Rosie Marks is een van die Brakpan Kunswedstryd Vereniging (BKV) se stigterslede en was vir baie jare ’n bekende beoordelaar in die dorp.
Sy het in 2005 die Afrikoon-toekenning van die ATKV ontvang vir haar onvermoeide ywer om die kunste te bevorder.
As kenner in die veld en dekades-lange deel van die Brakpan Kunswedstryd het Rosie haar ondervinding met die Brakpan Herald gedeel.
Waarna kyk beoordelaars in die kunswedstryd?
Beoordelaars kyk onder andere na die algemene voorkoms van die kinders. Kinders neem in hul skooluniform deel, omdat dit deel is van die leer om gepas aan te trek vir ’n geleentheid.
Hoe word die punte toegeken en wat is die stelsel?
Elke afdeling het sy eie stel reëls wat volledig in die sillabus op die webtuiste www.brakpankunswedstryd.co.za uiteengesit word.
Wat maak ’n goeie of swak item?
Items moet ouderdomsverwant wees. Deeglike voorbereiding is noodsaaklik om ’n goeie punt te behaal. Beoordelaars verstaan dat dit stresvol is om voor ’n saal vol mense te staan, daarom is hulle toegeeflik wanneer ’n kind vashaak en ’n woord of twee nodig het; maar as jy by elke sin vashaak en gehelp moet word, sal jy beslis punte verloor.
Hoe het kunswedstryde verander met die evolusie van tegnologie?
Vroeër was byvoorbeeld slegs klavierbegeleiding aanvaarbaar by sangafdelings. Later het dit verander en kon deelnemers CD-begeleiding of ’n stokkie (USB) gebruik. Dus steun kunswedstryde deesdae baie op tegnologie omdat dit alles makliker maak. Selfs rekwisiete soos ’n selfoon mag vandag gebruik word.
Is daar plek vir AI soos ChatGPT in die kultuur?
Daar is plek vir vernuwing, maar die riglyne moet vooraf neergelê word. ’n Goeie voorbeeld is dat daar eers voorbereide en onvoorbereide lees net uit geskrewe tekste gedoen is, maar later is radiodramas by die sillabus gevoeg en kon deelnemers tegnologie gebruik soos beligting, klank en byklanke. Kunswedstryde moet saam met die tegnologie groei, want dit is ’n handige hulpmiddel as dit reg ingespan word.
Wat is ’n geheim onder beoordelaars wat ouers en onderwysers nie weet nie?
Daar is geen geheime resep nie. Ouers en onderwysers wonder soms hoe punte toegeken word as twee deelnemers byvoorbeeld dieselfde item doen en alles reg doen.
Hoe bepaal die beoordelaar dan wie die beter een is as al die tegniese aspekte korrek is? Beoordelaars kyk na lyftaal. Lyftaal vertel of die deelnemer sy stuk verstaan.
Is dit ’n emosiebelaaide aanbieding? Is dit geloofwaardig? Oogkontak speel seker die belangrikste rol, want die beoordelaar kan in ’n kind se oë lees of die kind verstaan wat hulle doen, of dit geniet, sowel as of dit hulle persoonlike emosies raak.



