CrimeLocal newsNews

Saak van roekelose en nalatige bestuur na kind (8) in tref-en-trap beseer is

Die kind word tans in die Verre Oos Rand Hospitaal behandel vir beserings aan sy kop, kakebeen en pelvis.

Slegs vier dae nadat die dood van ’n 14-jarige tiener skokgolwe deur die dorp gestuur het, is nóg ’n kind ernstig beseer in ’n tref-en-trap-ongeluk.

Inwoners probeer steeds sin maak van die ongeluk waarin Malcolm Booysen van Brakpan-sentraal gesterf het (Brakpan tiener sterf in ongeluk, 8 Junie 2025), toe nog ’n kind ernstig beseer is.

In dié voorval is ’n agtjarige seun verlede Donderdag omstreeks 13:00 in Prince Georgelaan, naby AB Fishing, beseer.

Die kind, wie se ma nie sy naam aan die publiek wil bekendmaak nie, het saam met sy 11-jarige suster na ’n winkel gestap toe die ongeluk gebeur het.

Hy is in die Verre Oos Rand Hospitaal se pediatriese afdeling opgeneem met beserings aan sy kop, kakebeen en pelvis. Teen druktyd was hy in ’n stabiele toestand.


LEES OOK: Brakpan teen killed in crash involving child driver 


Die ma het haar dank uitgespreek teenoor die EMPD en nooddienste vir hul vinnige reaksie ná die ongeluk, asook vir die bystand en ondersteuning van VF+ PR-raadslid Riaan van Zyl.

“Mense moet ophou om onverskillig te bestuur, want ons kinders word in gevaar gestel. Dit is reeds die derde ongeluk waarin ’n kind betrokke is in ’n kort tydperk,” het Van Zyl aan die Herald gesê.

Vroeër vanjaar, toe die verkeersligte by die Mall@Carnival buite werking was, was die 10-jarige Blessing Onoh ook die slagoffer van ’n ongeluk.

Blessing het op Goeie Vrydag die pad oorgesteek toe ’n voertuig, wat glo uitgeswaai het vir ’n ander voertuig, haar getref het.


LEES OOK: Heartbroken family demands justice after girl’s death


Sy was op pad na ’n taxi nadat sy, haar sibbe en haar ma inkopies by die winkelsentrum gedoen het.

Die Brakpan SAPD het ’n saak van roekelose en nalatige bestuur geopen ná die ongeluk in Prince Georgelaan.

Volgens SAPD-woordvoerder, konstabel Audrey Buthelezi, is daar nog geen arrestasies gemaak nie, aangesien die saak steeds ondersoek word.

Die verdagte het die ongeluk by die polisie aangemeld, maar het glo nie genoem dat hy ’n kind getref en die toneel verlaat het nie.

Hy is later deur privaat sekuriteit opgespoor met behulp van videobeeldmateriaal van die ongelukstoneel. Die saak sal nou aan die hof voorgelê word vir verdere beslissing.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button