Brakpan inwoner sterf dekades ná oophartoperasie deur dr Chris Barnard
Barbara Opperman, wat as baba ’n lewensreddende operasie deur dr Chris Barnard ondergaan het, is op 44 oorlede ná ’n lewenslange stryd teen ’n seldsame hartkondisie.
Barbara Opperman (44) is onlangs oorlede ná ’n dekadeslange stryd met Tetralogie van Fallot, ’n seldsame hartkondisie waarmee sy gebore is.
In die laaste paar jaar het Barbara by haar seun, Hermie Opperman (24), in Brakpan gewoon. Sy is in 1980 in Gqeberha (Port Elizabeth) gebore.
Na haar geboorte het sy in 1981 ’n opehartoperasie ondergaan wat deur die beroemde hartchirurg, dr Chris Barnard, uitgevoer is.
Daarna is sy slegs drie jaar gegee om te leef. Haar verhaal het oor baie jare gesorg vir groot media belangstelling en verskeie artikels is oor haar gepubliseer.
LEES OOK: Easy Glass steun inwoners van Tweedy Park met twee nuwe vensters
Op die ouderdom van drie het dokters gesê sy mag dit dalk tot sewe jaar oud maak, en so het Barbara almal bly verstom.
Sy het deur die jare vyf oophartoperasies ondergaan en het ook ’n pasaangeër ontvang, wat later twee keer vervang is.
Are rondom haar hart moes ook al ’n paar keer vervang word, maar tog het Barbara ’n betreklik goeie lewe gelei.
In Desember 2024 het haar gesondheid egter begin agteruitgaan, en aan die begin van die jaar is sy opgeneem in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg.

Later het haar familie uitgevind dat haar hartkondisie haar niere aangetas het en dat sy nierversaking ervaar het. Barbara se sibbe het van heinde en verre gekom toe dokters laat weet het dat dit nie goed gaan nie.
“Met die nierversaking het die dokters ons laat weet dinge lyk nie goed nie. Ek het dadelik na Suid-Afrika toe gevlieg, en Cornay het vanuit die Kaap gekom sodat ons vier sibbe weer bymekaar kon wees en afskeid kon neem,” het Katryn van Vuuren (54), een van Barbara se sibbe, gesê.
Katryn verwys na Barbara se suster, Cornay Otto (51). Hul broer, Jannie Opperman (52), het ook tyd in die hospitaal saam met Katryn en Cornay deurgebring voordat Barbara oorlede is.
Met dialise het Barbara se toestand eers verbeter, maar ’n bloedklont het glo deur haar hart beweeg, en sy is op 22 Junie oorlede. Die begrafnis vind plaas op30 Junie, by Sincere Funeral Services in Brakpan.



