Local newsNews

Talentvolle Brakpanner slaan rol los in kykNET Diepe Water

Alhoewel sy steeds haar matriekjaar voltooi, het Carla Schönfeldt (17) onlangs haar debuut gemaak in kykNET Diepe Waters.

Alhoewel Carla Schönfeldt (17) nog daagliks agter die boeke inskuif om haar matriekjaar af te handel, het dié tiener onlangs ‘n televisierol losgeslaan in ‘n program op kykNET.

Die episode van Diepe Waters, waarin Carla haar debuut maak, is gister (Donderdag) uitgesaai. Carla vertolk die rol van Hanneli Viljoen, die jongste dogter van Schalk en Leandri Viljoen en suster van Marco en Danie Viljoen.

“Die televisiereeks handel oor ‘n familiebesigheid waar twee verskillende swemskole, wat konstant in kompetisie met mekaar is, betrokke is,” het Carla verduidelik.

Sy het Vrydag, nadat sy ‘n vraestel vir die rekordeksamen voltooi het, na Kaapstad vertrek om die Silwerskermfees by te woon.

Carla, wat haar verskyning op die blou-tapyt in ‘n asemrowende helder geel uitrusting gemaak het, vertel dat die ondervinding ‘amazing’ was.

“Dit was ‘n groot voorreg om op die blou tapyt te kon verskyn. Ek het sommige van my rolmodelle ontmoet, en dit is iets wat my altyd sal bybly,” het Carla vertel.

“Die Viljoen-kinders in die storie is aan die media bekendgestel. Ons het onderhoude met joernaliste gehad en daar is letterlik honderde foto’s geneem.”

Die rol van Hanneli Viljoen het oor Carla se pad gekom toe haar agent Zenobia van Zenobia Artist Management haar daaroor ingelig het.

“Ons het om 21:30 die aand‘n ‘selftape’ sommer in die kombuis geneem en dit ingestuur vir die oudisie,” het Carla vertel.

“Ek is daarna versoek om ‘n video in te stuur waar ek in ‘n swembad moes duik en swem, en daarna is ek in kennis gestel dat ek vir ‘n studio-oudisie moes gaan.

“Die wagperiode daarna was baie stresvol, want ek het twee weke gewag voordat ek die goeie nuus gekry het dat ek vir die rol aanvaar is.”

Oor haar eerste dag op stel sê Carla dit was ‘n belewenis.


Carla Schönfeldt was Saterdag in haar element op die blou tapyt by die Silwerskermfees wat in Kampsbaai gehou is. FOTO: Verskaf

“Ek het dadelik geweet ek hoort agter die skerms.”

Afhangende van haar skedule kan Carla tot drie keer ‘n week skiet, wat fyn beplanning verg aangesien sy in die pylvak van haar matriekjaar aan die Hoërskool Stoffberg is.

“Dit verg baie dissipline aangesien ek ‘n buitensporig besige matriekjaar beleef. Ek fokus op die akademie, maar dan is daar ook Stoffberg en SSStudios se tienertoneel waarvan ek deel is.

“Ek gaan ook later vanjaar my 10 jaar voltooi by SACOPA (South African Championships of the Performing Arts), wat vir my‘n groot mylpaal is.

“Tog vind ek hoe besiger ek is, hoe beter ek presteer. Ek hanteer druk goed en ek is vasbeslote om my matriekjaar met ‘n ‘bang’ af te sluit,” vertel Carla.

Die kontrak vir Diepe Waters is tot in Augustus 2026, en wanneer sy skiet, moet sy al 06:00 op stel wees. Carla vertel sy leer haar woorde in die kar op pad na die studio aangesien sy dit dan vinniger onthou.


LEES OOK: Sonneveld Akademie vier Vrouemaand met inspirerende damestee


“Ek geniet die rol van Hanneli aangesien ek glad nie soos die karakter is nie.”

Die eerste episode is reeds op 12 Junie geskiet, en dit was vir Carla en haar gesin bitter moeilik om die goeie nuus geheim te hou totdat dit bekendgemaak kon word.

Die nuwe verwikkeling in dié uiters talentvolle Brakpaner is net die kersie op die koek van jare se toewyding en ‘n magdom prestasies wat sy behaal het.

As onderhoofmeisie van haar skool het sy vanjaar weer deurgedring na die landsfinaal van die ATKV redenaarskompetisie; ‘n prestasie wat sy al voorheen ook behaal het.

Verlede jaar was sy die tweede prinses in die Miss Teen SA-kompetisie, en ‘n algehele hoogtepunt was toe sy in 2022 in Los Angeles by die Wêreldkampioenskappe vir Uitvoerende Kunste as Grand Champion of the World in die Junior Acting-afdeling aangewys is.

‘n Groep vriende en familie het gisteraand (Donderdag) by die Brakpan Rugbyklub bymekaar gekom om die episode van Diepe Waters, waarin Carla haar buiging maak, saam te kyk en ook die spesiale mylpaal in die lewe van ‘n jong, talentvolle en opkomende ster te vier.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.

Related Articles

Back to top button