Sonneveld Akademie vier Vrouemaand met inspirerende damestee
Die gasspreker was Corné “Katrientjie” Badenhorst, 'n maatskaplike werkster wat al baie trauma beleef het.
Sonneveld Akademie het Saterdag Vrouemaand gevier met ’n damestee met die tema ‘sprankelende sitrus’, wat die vroue in ’n feestelike en kleurvolle atmosfeer saamgebring het.
Die gasvroue het hul tafels keurig met ’n sitrustema versier, terwyl die saal van die Gereformeerde Kerk in Gardinerstraat in sitrusdekor gehul was.
Benewens die smaaklike kos en ander aktiwiteite was die hoogtepunt van die dag die optrede van die gasspreker, Katrientjie oftewel Corné Badenhorst.
Katrientjie was ‘n slagoffer van kinder-seksuele mishandeling en mensehandel.
Sy het haar storie van die trauma gedeel, en ‘n storie vertel oor die rede waarom sy die naam Katrientjie gebruik wanneer sy optree.
Dít word daaraan toegeskryf dat ‘n ouer dame, Tannie Lien, baie omgesien het na haar en ander dogters op ‘die hawe’ waar die mensehandel plaasgevind het.

“Ons hawe ‘girls’ was baie lief vir Tannie Lien. Sy het op ‘n moedelose dag vir my gesê: ‘lig op jou kop Katrientjie’ en dit het my bygebly,” het Corné verduidelik.
Die hooftema van haar toespraak was oor die kompartemente wat vroue skep om alles aan die gang te hou. Sy het dit vergelyk met die skywe van ‘n lemoen, wat mooi onder die skil saamgevat is, maar steeds apart is.
Sy het verduidelik dat die skil soos ‘n glimlag is wat vrouens aansit om te sê sy het alles onder beheer, maar wat tog ook baie pyn en moedeloosheid kan wegsteek.
Sy het verder uitgebrei na die mediese toestand genaamd ‘kompartementsindroom’ waar druk en vloeistof opbou in ‘n beseerde ledemaat of orgaan, wat die bloedtoevoer afsny en weefseldood veroorsaak.
Sy het dit teruggebring na die kompartemente van die lemoen, en gesê dat vrouens die druk moet uitlaat om die dood van ‘n kompartement te vermy. Hulle doen dit deur op mekaar te steun en nie alles vir hulself te hou nie.
LEES OOK: Brakpan’s Build it Plus Mercury reopens bigger, better, and bolder
LEES OOK: Dalpark inwoner volg passie vir skryf met bekendstelling van sy debuutroman







