Local newsNews

Brakpan VLU sluit jaar af met Kersfeesete en tuinwenke

Die Brakpan VLU het hul jaar afgesluit met goeie geselskap, tuinbou inspirasie en feestelike handvlyt wat almal laat glimlag het.

Die Brakpan-tak van die Vroue Landbou-unie (VLU) het op 11 November bymekaargekom vir hul finale vergadering van die jaar, asook hul Kersfeesete.

Die gasspreker vir die dag was Louis Hecker, eienaar van Heckers Kwekery, wat in 1981 deur sy ouers, Ronnie en Rika Hecker, op die been gebring is.

Louis het die lede meer vertel oor die plant en groei van bome en algemene tuinbouvernuf gedeel.

“Mense dink altyd dat, omdat ’n boom in ’n ronde sakkie kom, die gat waarin jy dit plant ook rond moet wees. Maar eintlik moet dit vierkantig wees om vir die wortels plek te gee om te versprei,” was een van die interessante feite wat hy gedeel het.


Alta Prinsloo en Ina Trosky met hul handgemaakte Kersversierings. PHOTO: Charma du Plessis

Hoewel Boomplantweek al verby is, vertel Louis dat dit belangrik is om inheemse bome deur die jaar te plant.

“Die jaar se inheemse bome was die witmelkhout en rooimelkhout, wat nie eintlik hier by ons in die Hoëveld voorkom nie,” sê hy.

Volgens Louis is dit belangrik om inheemse bome te plant om verskeie redes: een is skuiling, en ’n ander is dat bome habitat vir die natuur verskaf.

Wanneer iemand ’n boom plant, sê hy, moet die gat twee keer so wyd en diep gegrou word as die sakkie waarin die boom kom.

“Indien die boom se wortels reeds begin spiraal het aan die onderkant van die sakkie, trek dit dan liggies uitmekaar,” verduidelik hy.

Voordat daar geplant word, moet die grond wat uit die gat gekom het, gemeng word met ewe veel fosfaatryke kompos.

“Bou dan ’n grondwalletjie om die boom sodra dit klaar geplant is. Die walletjie hou die water bo die wortelbol, wat toelaat dat dit dieper insyfer eerder as afloop,” was Louis se raad.

“Vul die dammetjie op tot bo-aan die wal, en dit is raadsaam om altyd genoeg water te gee.”

Nog ’n belangrike oorweging is om ’n deklaag om jou boom se wortels te hê. Dit kan bestaan uit saagsels, klippe, die boom se eie blare of blare uit die tuin, of selfs gras wat gesny en gedroog is.


Delores van Rooyen (takvoorsitter) en Louis Hecker (gasspreker). PHOTO: Charma du Plessis.

“Moenie die blare wat afval weggooi nie – dis die perfekte deklaag. Met ’n deklaag kan ’n mens tot 50 persent water spaar, en dit beskerm die wortels van die boom teen erosie, verdamping in die somer en ryp in die winter,” het hy gesê.

Na die voorlegging deur Louis is ’n paar van die lede se vrae beantwoord, waarna almal ’n smaaklike ete geniet het.

Sommige van die lede het ook hul Kersfeestema-handvlyt gebring om mee te spog, en die tafels was pragtig versier.


At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button