Local newsNews

Hoërskool Stoffberg se hoofleiers deel hoop en doelwitte vir 2026

Die hoofseun en hoofdogter van Hoërskool Stoffberg is onlangs aangekondig, en deel hul insette vir die rol.

Die Hoërskool Stoffberg het onlangs sy hoofleiers vir 2026 aangewys. Hoofseun Waldo Pienaar en hoofdogter Anja Boshoff staan gereed om hul leierskap rolle met trots en verantwoordelikheid te vervul.

Elkeen het hul eie doelwitte en waardes wat hulle hoop om uit te leef deur die posisie, en om ander mee te inspireer.

Waldo Pienaar
“My rol as voorbeeld is onsetlik belangrik vir die jonger seuns van die skool. Jonger seuns kyk na hoe ek optree in die klas, op die sportveld en in my omgang met ander.

“Daarom moet ek voortdurend wys hoe ’n jonger seun respek, goeie integriteit en etiket te alle tye behoort te handhaaf,” het Waldo gesê.

Van die eienskappe van ‘n goeie leier het Waldo baie om te sê.

“’n Goeie leier vir my het moed, selfdissipline, nederigheid en die vermoë om reg en verkeerd te onderskei. Hy luister, neem verantwoordelikheid vir sy foute en staan vas vir wat reg is,” sê hy.

“Ek glo dissipline begin by duidelike verwagtings en konsekwente optrede. Ek wil ’n atmosfeer skep waar respek deel is van ons daaglikse kultuur.


LEES OOK: Tweedy Park continues to suffer under criminal activity


“Deur selfrespek te toon, deur eerlike gesprekke te hê wanneer gedrag nie aanvaarbaar is nie, en deur positiewe gedrag raak te sien en te versterk is vir my belangrik.”

Waldo se waardes, hoop hy, sal ander aanmoedig.

“Ek probeer waardes soos integriteit, hardwerkendheid, loyaliteit en medemenslikheid uitleef. Ek glo as ek hierdie waardes konstant toon, nie net wanneer iemand kyk nie, sal dit ander aanmoedig om dieselfde te doen.

“Vir my beteken sterk leierskap om standvastig te wees, maar nooit hardvogtig nie. Ek luister aktief na ander, probeer hul perspektiewe verstaan en werk saam om oplossings te vind.

“Wanneer mense voel hulle word raakgesien en gerespekteer, volg hulle eerder uit vertroue as uit vrees,” sluit hy mee af.

Anja Boshoff
Anja hoop om ander te inspireer as hoofmeisie deur haar aksies.

“Ek gaan baie hard werk om ‘n goeie voorbeeld te stel in alles wat ek aanpak. Elke meisie hier by die skool het ‘n belangrike rol, en ek weet sy kan enigiets bereik as sy in haarself glo en hard werk,” sê sy.

“As ek haar kan aanmoedig en ondersteun hierin sal dit vir my ongelooflik baie beteken.”

Anja se boodskap aan jong meisies wat ook eendag ‘n leierskaprol wil vervul is om klein aksies te neem, want

“klein aksies kan ‘n massiewe impak hê.”

“Jy hoef nie te wag vir ‘n balkie nie. Begin waar jy is en gebruik wat jy het om ‘n verskil te maak. Onthou net dat een enkele aksie soms nodig is om die eerste domino om te stoot, en daarna vind ‘n ketting-reaksie vanself plaas,” het sy gesê.


LEES OOK: Donate old glasses at AutoZone and support Lions BrightSight


Van vroueleierskap sê Anja dat die beste leiers ander aanmoedig en na hul opinies luister.

“Ons adjunkhoof, Alida Visser, is vir my ‘n uitstekende voorbeeld. By haar het ek geleer hoe ‘n vrou haar plek tussen mans kan volstaan.”

Om samewerking tussen meisies in die skool te bevorder gaan Anja fokus op sosiale media, wat sy glo druk op jong meisies plaas om almal eenders te wees.

“Ek glo ‘n mens se krag lê daarin om anders te wees. As ek kan wys dat ek gemaklik is in my eie vel en trots is op dit wat my uniek maak, hoop ek dat ander dogters ook die vrymoedigheid sal hê om dieselfde te doen.”

In haar vrye tyd oefen Anja meeste middae atletiek of netbal, en in die aande leer sy, maar tydens skoolvakansie geniet sy watersport, sneeu ski of om te lees en koekies te bak.

Hoofleierskap volgens Anja en Waldo
“Ek was so dankbaar en nederig,” sê Waldo oor sy verkiesing tot die rol. “Dit was ‘n groot verrassing, maar ook ‘n mooi bevestiging dat my maats en onderwysers my vertrou om die rol te vervul.”

Anja sê: “Ek is baie dankbaar, dit is ‘n baie groot eer en ek is opgewonde om ‘n verskil te maak.”

Dat ander mense in haar glo en na haar opkyk maak haar bly, maar sy weet ook dat dit ‘n baie groot verantwoordelikheid is.

“Dit is ‘n voorreg wat ek ernstig moet opneem, en betekend dat ek nou net nog harder moet werk om seker te maak dat Stoffberg trots op my sal wees as hul hoofdogter,” het sy gesê.

Vir Waldo beteken die rol ‘n kans om ‘n positiewe verskil te maak.

“Dit gaan oor verantwoordelikheid, diensbaarheid en die voorreg om my skoolgemeenskap te verteenwoordig en myself te bewys,” het hy gesê.

“Ek wil ’n skoolkultuur help skep waar almal ingesluit voel en saam mekaar werk. Waar leerders trots is om deel van die skool te wees. My visie is om samewerking, skoolgees en respek te versterk,” sê hy verder.

Anja sê weer: “My fokus is om leerders opgewonde te maak om betrokke te raak by die wye verskeidenheid sport, kultuur en sosiale aktiwiteite wat Hoërskool Stoffberg aanbied.

“Ek weet hier is iets vir elkeen, of jy nou goed is met golf, dogterskrieket, skyfskiet, visvang, toneel, revue of wiskunde olimpiades. Ek hoop dat elke Stoffie aktief sal deelneem, talente sal ontdek, selfvertroue sal ontwikkel en sy of haar volle potensiaal kan bereik.”

Waldo stem saam en sê dat ‘n uitdaging wat hulle in die gesig staar is om leerders betrokke te kry met sport, kultuur en enigiets wat die skool aanpak.

“Ek beplan om oop kommunikasie te handhaaf, spanwerk te bevorder en motivering te skep vir almal om deel te neem en te verbeter,” sê hy.

“Ek dink dat leerders nie deelneem nie omdat hulle skaam voel of nie lus is om betrokke te wees nie. Ons plan is om eers by onsself te begin as die hoofleier-span, daarna die Dissiplinêre Komitee en dan ook die matrieks om ‘n aansteeklike gees te bou,” het Anja verder gesê.

Waldo se raad aan ander leerders is: “Moenie bang wees om betrokke te raak nie, en gebruik elke geleentheid om te groei. Ons jaar sal net soveel sterker wees as ons bereid is om saam te werk en mekaar te ondersteun.”


LEES OOK: Enjoy family-friendly festivities at Carols by Candlelight 2025


Anja se boodskap is dat 2026 ‘n besonderse feesjaar gaan wees, want Hoërskool Stoffberg is dan 80 jaar oud.

“Kom ons maak hierdie die beste jaar ooit, sodat Hoërskool Stoffberg net van krag tot krag kan gaan in die volgende 80 jaar,” het sy gesê.

Waldo beskryf sy leierskapstyl as ‘n spanleier wat graag luister voor hy besluite neem. “Ek glo aan empatie, om my dade as ‘n voorbeeld te stel en om hardwerkend te wees en nooit op te gee nie.”

“Ek probeer altyd om ‘n voorbeeld te wees,” is Anja se leierskapstyl. “Christenskap is vir my die fondasie waarop alles rus, en daarna respek en diensbaarheid.”

Respek, integriteit, vriendelikheid, sportsmanskap en verantwoordelikheid is die waardes wat Waldo wil uitleed. “Ek glo dat hierdie waardes nie net die skool verbeter nie, maar ons as individue vorm.”

Sy grootste inspirasie is die Vader wat volgens Waldo nederig dien en ander eerste stel en met integriteit optree.

“Dit herinner my dat leierskap nie oor posisie gaan nie, maar oor invloed. Ek het geleer dat ‘n mens meer gedoen kry hoe meer jy doen, en ook dat ‘n mens ver kan vorder in die tyd wat ander mors,” sê Anja oor balans tussen al haar aktiwiteite.

“My program is gewoonlik propvol en daarom weet ek hoe belangrik goeie beplanning en dissipline is. Verder dink ek ook dat hierdie my beter voorberei om in 2027 te kan aanpas as ‘n student op universiteit,” het sy gesê.

Waldo beplan sy tyd vooruit, stel prioriteite en maak seker dat hy genoeg rus kry. “Ek glo dat balans moontlik is as ‘n mens gedissiplineerd en georganiseerd is.”

Van nalatenskap het albei selflose sienings. Waldo wil hê dat mense moet onthou dat hy iemand was wat omgegee het en ‘n positiewe verskil gemaak het, hoe klein ookal.

“Ek hoop om ons kultuur en trots te versterk. Dit sal my hart bly maak as ek sien dat my harde werk verskille gemaak het in mense se lewens.”

Anja glo dat haar nalatenskap nie haar bereik van die rol van hoofdogter sal wees nie, maar eerder die suksesse wat ander sal behaal as gevolg van haar ondersteuning.

“Indien ek onthou sal word as ‘n hoofdogter, hoop ek dat dit is as een wat ander bemagtig het. Dan sal ek voel dat ek my doel bereik het.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button