Hoërskool die Anker hoofleiers opgewonde vir 2026
Die hoofdogter en hoofseun van Hoërskool die Anker vir 2026 vind hul verkiesing tot die rol 'n groot voorreg.
Hoërskool Die Anker het onlangs hul hoofleiers vir die komende jaar aangewys. Die hoofdogter Eleanor Maredi en hoofseun Xavier Momberg deel hulle ervaring tot dusver en hul visie vir die jaar wat voorlê.
Eleanor Maredi
Eleanor wat bekend is vir haar redenaarsvermoë, het haar woorde sorgvuldig gekies, so eie aan haar karakter.
“Dit is vir my ‘n eer om ‘n inspirasie en rolmodel te wees vir die meisies by my skool, en ek is vir ewig dankbaar omdat hierdie groot verantwoordelikheid aan my toevertrou is,” het sy gesê.
Haar boodskap aan ander meisies wat hoop om eendag self leierskapsrolle te betree, is om altyd in hulself te glo.
“Moet nooit bang wees om spasie op te neem nie, en moet nooit opgee nie, al raak dinge moeilik. Dit beteken om nie bang te wees om uit te staan nie, en om te verseker dat jong meisies weet dat hulle in staat is tot enigiets wat hulle harte begeer.”

Sy verduidelik wel dat ’n mens eers in staat is tot jou hartsbegeertes wanneer Jesus aan jou kant is. Eleanor se waardes is om met liefde en positiewe gesindhed op te tree.
“Ek hoop om geleenthede te skep waar ek meisies kan wys hoe om mekaar so te hanteer,” sê sy.
In haar vrye tyd spandeer Eleanor graag tyd met haar jonger sussie.
“Ons het albei ‘n rowwe program, tussen skool en buitemuurse aktiwiteite, so wanneer daar ‘n blaaskans is, is dit ons altyd saam,” sluit sy mee af.
Xavier Momberg
Xavier is goed voorberei vir sy rol as hoofseun en sien dit as ‘n groot verantwoordelikheid, maar ook as ‘n voorreg.
Hy verstaan dat leerders, veral seuns, hoofseuns se gedrag dophou en dat sy gedrag konstant moet wees.
“Ek glo dat ek deur my gedrag, werksetiek en houding kan wys wat dit beteken, wat dit beteken om trots te wees op jou skool, en om respek te hê vir jouself en ander,” het sy gesê.
Hy voel hy sal sy doel as hoofseun bereik, al het hy net een seun bereik en geïnspireer gedurende sy termyn. Hy glo ook dat ‘n leier eerlik, betroubaar en nederig moet wees.
“’n Leier moet nie net mense lei nie, maar moet ook bereid wees om self te leer. Leierskap gaan oor diens. Dit is om ander te dien met respek en deernis. ‘n Ware leier staan op vir wat reg is, veral wanneer dit moeilik is,” sê hy.
LEES OOK: Sonneveld Akademie kondig nuwe leerlingraad aan
Spanwerk en die span is belangriker as ‘n leier se eie belang, en dissipline begin by iemand wat as voorbeeld optree, volgens Xavier.
“As ek verwag dat ander op ’n sekere manier optree, moet ek dit eerste doen. Ek wil ’n kultuur bevorder waar dissipline nie uit vrees kom nie, maar uit trots in jouself, jou skool en jou span.”
Xavier weet dat volharding en om konsekwent te wees ‘n omgewing skep vir respek om natuurlik te groei, maar net as ‘n mens ook na mense luister en hulle motiveer.
“Ek probeer altyd eerlik, respekvol en betroubaar wees. Ek glo in deursettingsvermoë, om aan te hou wanneer dinge moeilik raak. Ek probeer ook om altyd positief te bly,” sê hy.
LEES OOK: Withok Estates residents blow whistle on illegal settlement
Aanmoediging van ander wys volgens hom sy krag as leier, en dit is vir hom belangrik om sterk te wees sonder om hardhartig te wees.
“’n Mens kan leierskap toon deur vriendelikheid en integriteit,” sê hy.
Oor balans handhaaf is Xavier baie streng, “Ek glo ware leierskap gaan oor balans. Jy moet ferm wees wanneer dit nodig is, maar ook verstaan wanneer iemand sukkel of leiding nodig het.
“Ek probeer altyd luister voor ek praat, en om mense se perspektiewe te verstaan voor ek besluite neem. Deur saam te werk, eerder as om net opdragte te gee, kan ons veel meer bereik. ‘n Goeie leier help ander om hul eie potensiaal te bereik“ sê hy verder.



