Sakevroue netwerk en vier suksesvolle jaar in cowboy-styl
Die Sakevroue vier ’n jaar waarin ondersteuning geseëvier het.
Die Oos-Rand Sakevroue het onlangs hul hakskoene vir cowboy-stewels verruil om ’n dinamiese jaar op ’n hoë noot af te sluit tydens hul jaareindfunksie by Ruby & Rustic Venue.
Die vroue, saam met hul gades wat ook by die funksie welkom was, het die geleentheid gebruik om te netwerk, saam te vier en op die jaar terug te blik.
Vanjaar het die Sakevroue begin met ’n “meet and freet-ontbyt” op 2 Julie by Madeleine’s Venue in Benoni, waar Pete Beart ’n kort maar insiggewende praatjie oor die waarde van egte heuning en die gevare van valse heuning gelewer het.
Daarna het die groep op 3 September by Sunkist Garden Pavilion vergader waar Debbie Wilmot die gehoor met ’n meetlint herinner het dat mense dikwels wag vir die “regte tyd” om voluit te leef.
Hoogtepunte van die cowboy-aand
Die cowboy-tema het die byeenkoms ’n speelse dog stylvolle karakter gegee, met ’n uitstekende vertoning deur Louise Tatiana en Sean Kelly wat die gehoor op hul voete gehad het met liedjies soos You Look Like You Love Me en Jolene.
Netwerk wat werklik deure oopmaak
Vir lid Daleen Nel, ’n eiendomsagentskap-eienaar, het die organisasie oor die jare nie net ondersteuning gebring nie, maar ook sakegeleenthede.
“Ongeveer 15 jaar gelede het ek by die Sakevroue aangesluit nadat ek ‘n advertensie oor een van hulle funksies op sosiale media gesien het. Ek het my eerste huis tydens ’n funksie hier verkoop, en ek het al baie kliënte deur hierdie netwerk ontmoet.
Die vroue ondersteun mekaar. Dit is vir my baie belangrik om betrokke wees in my gemeenskap. Hierdie jaareindfunksie was weer een vir die boeke. Ek het dit geniet om saam met almal te kuier,” het Nel bygevoeg.
’n Platform wat geleenthede bied
Voorsitter Karen Herbst beskryf die jaareindfunksie as ’n groot sukses.
“Mense het tot laat gekuier en gedans. Ons het besluit op die cowboy-tema en ’n plaaslike venue ondersteun om iets uniek en gemeenskapsgerig te doen.”
Die Oos-Rand Sakevroue bly ’n gevestigde platform waar sakevroue ontmoet, verbind en groei, terwyl hul liefdadigheidswerk steeds ’n kernfokus bly. Herbst nooi nuwe lede om deel te word van die netwerk.
Navrae of lidmaatskap: karen.herbst@sanlam4u.co.za









