Inwoners gevra om skryfbehoeftes te skenk aan behoeftige kinders
Inwoners word gevra om tweedehandse skryfbehoeftes te skenk om kinders in nood ’n goeie begin van die skooljaar te gee.
Charlene Peens, ‘n inwoner van Minnebron, samel die afgelope paar jaar reeds skryfbehoeftes in wat sy verpak vir behoeftige gesinne in Brakpan.
Vanjaar doen sy dit weer, en sy doen ’n beroep op ouers en inwoners van Brakpan om hulle tweedehandse skryfbehoeftes aan haar te skenk.
“Ek beplan om in te samel tot die einde van Desember en dan te begin uitdeel aan die begin van Januarie. My projek is nie gemik op enige skool nie, maar op Brakpan oor die algemeen. Mense wat hulp soek, WhatsApp my en ek help met wat ek kan,” sê Charlene.
“Ons het op ’n stadium in ons lewe nogal deur ’n regtig moeilike tyd gegaan. Ek weet Desember en Januarie is moeilike maande, want nie almal kry bonusse nie en skielik moet jy bekommerd wees oor hoe om vir jou kind skoolgoed en skoolklere te kry,” sê sy.
LEES OOK: Emperors Palace brings holiday magic with Christmas Village
“Jy wil nie jou kind met leë hande skool toe stuur nie. Jou kind word skaam en sommige kinders pik op hulle as hul nie skoolbehoeftes by die skool het nie,” sê sy verder.
“Ek weet nie of dit die Liewe Jesus was wat dit in my gedagtes gesit het nie, maar ek het besluit om te vra: ‘Hoe kan ek help?’
“Ek vra nie vir geld nie, aangesien baie mense dink dit is ’n bedrogspul. Ek is ook nie ’n nie-winsgewende organisasie nie, maar ek het besluit om tweedehandse skryfbehoeftes bymekaar te maak.”
Wat Charlene gewoonlik die meeste nodig het, is:
• Gomstokkies
• Boeke (sy ontvang min hiervan aangesien dit iets is wat mense spesifiek moet koop om te skenk)
• Lêers – alle soorte
• Kleurpenne
LEES OOK: Leandro Freitas: a rising MMA fighter worth backing
Enige skryfbehoeftes is welkom, maar die bogenoemde is altyd moeilik om tweedehands te kry, en word altyd voor gevra.
Charlene het ook ‘n WhatsApp-groep waar ouers kan skoolklere uitruil, verkoop of skenk, waar hulle ’n bietjie van die geld kan terugkry wat hulle op die skoolklere uitgegee het of as hulle net iemand wil help.
“My mikpunt is om die kinders van Brakpan, wat in nood is te help. Ek voel hulle is die toekoms. Dit is so ’n cliché, maar ons as ouers moet probeer kyk wat die beste is vir ons kinders om hulle te probeer help,” sluit sy af.
Enigeen wat wil skryfbehoeftes skenk, benodig, of wil aansluit by die skoolklere-uitruilgroep kan Charlene kontak by 0071 421 5683.



