Local newsNewsSchools

Die Laerskool Brakpan-Oos ontvang groot gemeenskapsondersteuning ná inbraak

Die skool se nuwe hoof het 'n boodskap van dank gedeel.

Die Laerskool Brakpan-Oos was tydens die Desembervakansie die teiken van inbrekers, waartydens die skool se tuingereedskap gesteel is en die klerebank ook leeggedra is.

Om die skool te help voorberei vir die nuwe jaar het verskeie organisasies, individue en rolspelers ingespring om te help.

Die Clean Brakpan-groep het op 7 Januarie die wiel aan die rol gekry en tesame met ander vrywilligers se hulp is drie dae se werk op die skoolterrein in bietjie meer as ’n dag voltooi, waarvoor die skool se nuwe hoof, William Daniels, baie dankbaar is.

“Namens Laerskool Brakpan-Oos wil ons graag ons opregte dank en waardering uitspreek teenoor die Clean Brakpan-groep en die ander vrywilligers vir die waardevolle ondersteuning en hulp wat aan ons skool verleen is,” het hy gesê.

“Julle bereidwilligheid om ons by te staan in ’n tyd van nood getuig van gemeenskapsgees, omgee en samewerking. Hierdie ondersteuning het ’n beduidende verskil gemaak en dit word deur ons personeel, leerders en ouergemeenskap hoog op prys gestel,” het hy verder gesê.

“Ons waardeer die hande wat gehelp het, en die hart waarmee dit gedoen is. Dankie dat julle saam met ons werk om ons skool weer op te bou en te versterk,” het Daniels bygevoeg.

Die Brakpan Rugbyklub het ook van die skool se dilemma te hore gekom en gesorg dat ’n grassnyer en mannekrag die enorme taak vergemaklik het.

Op Maandag (12 Januarie) het Francoitte van den Heever, in samewerking met die Village of Hope NPO, Brakpan SAPD Sektor 1-bestuurder en korporatiewe kommunikasie-offisier, konstabel Audrey Buthelezi, en Charlene Peens, klere en skoene vir die skool se klerebank afgelewer.

Die klerebank is tydens die inbraak heeltemal leeg gesteel en die skool was baie dankbaar vir die items wat afgelewer is.

Die skenking sluit ook skryfbehoeftes in van Charlene se insamelingsprojek, waaroor die Brakpan Herald reeds berig het (“Inwoners gevra om skryfbehoeftes te skenk aan behoeftige kinders”, 15 Desember 2025).

Daar was ook 60 pare skoene, 12 kortbroeke, 22 langbroeke, vier pare kouse, twee truie en 12 wit skoolhemde wat nou die skool se klerebank kan aanvul.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button