Laerskool Brakpan-Oos skud vere reg vir sy 90ste bestaansvieringe
Die skool is op 2 Junie, 1936 gestig as afstigting van die Afrikaansemedium skool Brakpan (nou Laerskool Kommando).
Die Laerskool Brakpan-Oos maak gereed om vanjaar ’n besondere mylpaal in sy trotse geskiedenis feestelik te vier.
Met ’n reeks opwindende geleenthede wat beplan word, sien die skool daarna uit om oud- en huidige leerders, personeel en die gemeenskap saam te bring om byna nege dekades se groei, prestasies en herinneringe te vier.
Laerskool Brakpan-Oos het sy ontstaan gehad op 2 Junie 1936 by wyse van afstigting van die Afrikaansmedium Skool Brakpan (nou Laerskool Kommando).
Alle leerders tot en met standerd vier wat oos van Gordestraat gebly het, is oorgeplaas na Brakpan-Oos in Victorialaan.
Die skoolgebou het bestaan uit ’n sinkgebou, twee klasse, ’n stoor en ’n kantoor. Die Nederduits Hervormde Kerk-konsistorie is ook gebruik as klaskamers.
Onder leiding van die waarnemende hoof, JN Meyer, was daar 242 leerders en sewe personeellede.
Op 5 April 1937 is SI Prinsloo as hoof aangestel, en hy het die gekool vir 14 jaar gelei.
Die skool het gegroei, en die beskikbare klaskamers was onvoldoende. Teen die einde van 1938 is die skoolgebou in Victorialaan gebou, en kon al die leerders daar intrek.
In daardie tyd is 1 400 bome geplant as ’n heining om die gronde, asook ’n paar sierbome.
Teen 1946 het die skool gegroei tot 545 leerders.
In 1951 is CL Swart as waarnemende hoof aangestel, en in 1952 is JM Meyer as hoof aangestel. Ná hom, in die 1960s, is P Swart as hoof aangestel.
Die skool gaan vanjaar die besondere mylpaal in styl vier. Hulle skop op 27 Maart af met ’n golfdag by die State Mines Country Club.
Die Kapperjolle Fees aan die einde van kwartaal twee gaan ook ’n hoogtepunt wees, en die kersie op die koek is die feesvieringe wat gaan plaasvind op die skool se verjaarsdag, op 2 Junie.








