Instandhouding versuim laat Brakpan Begraafplaas in chaos
Gemeenskapsgroepe moes op Kersdag selfs eie sekuriteit reël sodat families veilig hul geliefdes se grafte kon besoek.
Die huidige toestand van die Brakpan Begraafplaas is onaanvaarbaar en wek ernstige kommer onder inwoners.
Wat veronderstel is om ’n ordentlike, veilige en waardige openbare ruimte te wees, het in baie opsigte ontoeganklik geraak vir inwoners wat die grafte van hul geliefdes wil besoek.
Hoewel begrip getoon kan word vir die impak van onlangse reënweer en die feestyd, is dit duidelik dat hierdie situasie nie die gevolg is van korttermyn omstandighede nie, maar spruit uit langdurige versuim en onvoldoende instandhouding.
“Die feit dat gemeenskapsgroepe spesiale reëlings moes tref en hul eie sekuriteit moes voorsien sodat families op Kersdag veilig hul geliefdes se grafte kon besoek, is ’n aanklag teen die Stad van Ekurhuleni,” het die DA-raadslid vir Wyk 97, Brandon Pretorius gesê, by navraag oor die toestand van die begraafplaas.
“Geen inwoner behoort ooit in ’n posisie te wees waar hulle vir hul veiligheid vrees terwyl hulle hul laaste eer aan oorledenes betoon nie,” het hy bygevoeg.
Die Herald is die afgelope tyd oorval met klagtes en het Dinsdag die begraafplaas besoek, vergesel deur Secure Tech vir veiligheid.
Die begraafplaas is tot so ’n mate toegegroei dat die meeste van die grafte skaars sigbaar is.
Daar is wydverspreide onwettige storting, aanhoudende waterlekkasies en duidelike tekens dat ongenooide persone op die terrein vertoef.
Persone wat die plek alleen besoek, neem baie beslis ‘n groot risiko.
Volgens Pretorius is hierdie toestande nie net onwaardig nie, maar hou ook ernstige gesondheids- en veiligheidsrisiko’s in.
“Een van die kernprobleme is dat die stad geen interne kapasiteit het om begraafplase te onderhou nie,” sê hy.
“Grassny en algemene instandhouding word aan kontrakteurs uitgekontrakteer en in die geval van die Brakpan Begraafplaas word dit, indien ons gelukkig is, slegs een keer per jaar gedoen.
“Weens die enorme grootte van die begraafplaas het dit feitlik onmoontlik geword vir inwoners, gemeenskapsinisiatiewe of vrywilligers om werklik ’n verskil te maak of die terrein na ’n aanvaarbare toestand te herstel, ongeag hul bereidwilligheid om te help.
“Daar blyk ’n totale gebrek aan begrip te wees by sowel die stadsadministrasie as die kantoor van die burgemeester vir die sentimentele en emosionele waarde wat daaraan verbonde is om die grafte van geliefdes te kan besoek.
“Begraafplase is nie opsionele geriewe nie. Dit is heilige openbare ruimtes wat respek, sorg en volgehoue instandhouding vereis.
“Die lid van die Burgemeesterskomitee (MMC) van die parke het my verseker dat hy Brakpan Begrafplaas gaan prioritiseer en verseker dit word aandag gegee.
“My bekommernis is wel dat dit weer eenmalig sal wees en nie die eintlike instandhoudingsprobleem oplos nie,” het Pretorius gesê
Kommentaar is versoek van die Stad van Ekurhuleni en is teen druktyd nie ontvang nie.








