Local newsNews

Jesus Is the Answer motorfietsklub brei uit na Brakpan

Die klub bied trauma berading, opvoerings vir skole wat boelie, dwelms en selfbeeld aanspreek en ondersteuning vir slagoffers van huishoudelike geweld aan.

Die JITA (Jesus is the Answer) motorfietsklub het onlangs ‘n tak in Brakpan gestig wat beoog om die goeie werk wat hulle doen na die dorp te bring.

Die klub is gefokus op die verspreiding van Jesus Christus se woord, en het ‘n kerk in Heidelberg wat liefdelik die Drukkie Kerk genoem word, maar dit is nie al wat hulle doen nie.

Hennie de Jager (63) is die stigter, en ‘n geregistreerde spesialis berader met SAQA erkenning asook by die Raad van Beraders SA, spits homself toe op die innerlike herstel en genesing van mense, en veral motorfietsryers, wat al trauma beleef het.

Hy en sy klub ondersteun ook slagoffers van huishoudelike of geslagsgeweld, veral kinderslagoffers.

Hennie en sy seun Christo de Jager (35), is ook geregistreerde huweliksbevestigers wat wettige huwelike kan doen, en beide is geordende pastore by die Pinkster Protestante Kerk van Suid-Afrika en doen ook begrafnisse.

Bonop doen hulle opvoerings by skole voor hulle met die leerders gesels oor onder andere onderwerpe soos boelie, dwelms, seksuele teistering en selfbeeld of wat die behoefte by die skole mag wees.

Hulle tree selfs in by okkult-verwante gevalle, en wil ‘n nuwe beeld van motorfietsryers en klubs skep. Hennie werk die afgelope 33 jaar met okkult verwante gevalle. “Daar is ‘n stigma rondom bikers wat ons wil verander.”

Die Brakpan tak se president, William Morrison (55) sê hy het aangesluit by die klub omdat hy nog altyd die Here wou dien met alles wat hy doen.

Hy het Hennie en Christo in Springs ontmoet en byna onmiddelik by hulle ingeskakel.

“Vir my gaan dit oor om te wys dat bikers goeie mense is. Dit is Jesus se opdrag om stukkende mense weer heel te maak,” het Hennie gesê.

Die klub hou ook streng by padreëls en veiligheidsmaatreëls.

“Ons kan nie die Kruis dra én die landswette oortree nie,” het Hennie gesê.

Die groep bied ook selgroep opleiding, opleiding vir basiese bystand vir mense met trauma, en kan mense wat sukkel met dwelm misbruik verwys na programme en instansies wat hulle weer op die regte pad kan sit.

Vir meer inligting, skakel Hennie by 082 968 7310, of vir William by 064 758 7142.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button