Brakpan Chronicles: Dokumentêr oor Brakpan vanaand (Vrydag) op Showmax
Die dorp agter die memes word onthul in die nuwe dokumentêr op Showmax.
Inwoners moet vanaand (Vrydag 20 Februarie) en môreaand (Saterdag) maar die springmielies nader trek om ’n twee-delige dokumentêre reeks oor Brakpan op Showmax te kyk.
Die reeks is geskep deur Rian van Heerden en Provoco.
Showmax het onlangs die treffende lokprent vir Brakpan Chronicles vrygestel, wat vanaand (Vrydag) op die platform sy première maak.
“Ek was nog altyd ’n aanhanger van die Brakpan-memes, maar toe ek ’n YouTube-video deur The Boys (Matthew en Joey Perry) oor Brakpan sien, het ek besef dis hoog tyd dat ek ’n dokumentêr oor hierdie dorp maak,” het van Heerden tydens ’n vorige onderhoud met die Herald gesê.
“Ek hoop mense sal ook sien dat, buiten die grappe en memes, daar ’n opregte hart in Brakpan is; maar ook dat van die uniekste mense wat ek nóg ontmoet het, daar woon,” het hy ook gesê.

Volgens Rian was dit ’n moeilike besluit om te bepaal watter stories en mense die dorp die beste verteenwoordig.
“Ek was veral geïnteresseerd om met die ware karakters te gesels,” het hy gesê.
Verfilming het in Februarie verlede jaar begin, toe die span sowat ’n maand in die dorp deurgebring het. Hulle het later in Maart teruggekeer om tyd by The Rock Raceway deur te bring.
Beplanning vir die dokumentêr het egter veel vroeër begin, en ’n paar voorafbesoeke aan die dorp was belangrik voordat die filmspan ingebring is.
LEES OOK: Upcoming 2-part Showmax documentary of Brakpan set to stun
Die egtheid van Brakpan was wat Rian die meeste verras het tydens verfilming, selfs al was sommige mense huiwerig om met hom en die span te “gesels weens al die grappies oor die dorp,” het hy gesê.
“Maar die oorgrote meerderheid het die humor raakgesien en was heel gewillig om self ’n paar Brakpan-grappies te maak,” onthou hy.
Daar was baie wat hy graag in die dokumentêr sou wou insluit wat nie die finale weergawe gehaal het nie, maar die eindproduk is steeds iets waarop hy trots is.
“Ek sien Brakpan Chronicles nie as ’n tipiese gemeenskapsdokumentêr nie; dit gaan oor ’n baie bekende dorp en sy unieke inwoners,” het hy gesê.
“Gee die program ’n kans! Kyk dit en vorm dan jou eie mening,” was Rian se raad aan almal wat vanaand en môreaand gaan kyk.




