VIDEO EN FOTO’S: Brakpan-Oos herdenk 90ste bestaansjaar
Die laerskool in Brakpan-sentraal is een van die eerste skole in die dorp, slegs omtrent 'n jaar jonger as die oudste skool.
Laerskool Brakpan-Oos het op 2 Junie hul 90ste bestaansjaar met groot trots gevier.
Die mylpaal is gekenmerk deur die amptelike inhuldiging van ‘n nuwe kloktoring, ‘n spesiale viering op die skoolterrein en ‘n indrukwekkende hommeltuigfoto waarin leerders die syfer 90 op die sportveld gevorm het.
Die skoolhoof, William Daniels, het die verrigtinge met ‘n danksegging geopen voordat hy die kloktoring amptelik ingewy het.
Daarna het die leerders vir die gedenkwaardige hommeltuigfoto saamgetrek en die feesvieringe met kolwyntjies en prettige boeresportaktiwiteite voortgesit.

“Dit is vir my ‘n besondere voorreg en groot eer om vandag hier voor julle te staan ter viering van ‘n merkwaardige mylpaal in die geskiedenis van ons geliefde skool,” het hy gesê.
“Vandag, op 2 Junie 2026, vier ons Laerskool Brakpan-Oos se 90ste bestaansjaar. Negentig jaar gelede is die fondamente van hierdie skool gelê.
“Sedertdien het duisende leerders deur hierdie gange gestap, honderde toegewyde onderwysers hul harte en kennis gedeel, en generasies gesinne hul vertroue in die skool geplaas.
“Wanneer ons terugkyk oor nege dekades, sien ons meer as net geboue en klaskamers. Ons sien drome wat verwesenlik is, uitdagings wat oorkom is en lewens wat gevorm is.

“Ons sien die nalatenskap van mense wat geglo het dat onderwys die sleutel tot ‘n beter toekoms is.
“Ons eer vandag elke hoof, onderwyser, personeellid, beheerliggaamlid, ouer en leerder wat deel was van hierdie wonderlike reis.
Elkeen het op sy of haar eie manier bygedra om die skool te maak wat dit vandag is,” het Daniels gesê.
Hy het die personeel bedank vir hul toewyding en harde werk, dikwels onder uitdagende omstandighede.
“Julle gee nie net kennis oor nie; julle gee hoop, leiding, ondersteuning en liefde. Julle maak elke dag ‘n verskil in kinders se lewens,” het hy gesê.
Daniels het ook die beheerliggaam vir hul ondersteuning, leiding en toewyding bedank.
“Julle speel ‘n onmisbare rol in die sukses van ons skool.”
Aan die ouers het hy sy waardering uitgespreek vir die vertroue wat hulle in die skool stel.

“Dankie dat u u kosbaarste besitting, u kinders, aan ons toevertrou. Ons waardeer die ondersteuning en vertroue wat u aan die skool gee.”
Hy het sy boodskap afgesluit deur die leerders toe te spreek.
“Julle is die hartklop van Laerskool Brakpan-Oos. Julle is die rede waarom ons elke dag met passie en doelgerigtheid werk. Julle dra die naam van hierdie skool die toekoms in.”
Na afloop van sy toespraak het Daniels, as die skool se nuwe hoof, die eer gehad om die eerste persoon te wees wat amptelik by die nuwe kloktoring ingeklok het.







