Vroue word bederf ter viering van Vrouedag
Die groep vroue het ‘n onvergeetlike dag beleef danksy die goedhartigheid van vrywilligers.
Vrouedag, wat Dinsdag gevier is, was vir ‘n klein groep vroue van die dorp baie spesiaal toe hulle vir ‘n dag lank gepamperlang is.
Belinda Coetzer van die organisasie, Brakpan 4 Brakpan het ‘n groep vroue vir die doel geïdentifiseer.
Die vroue is afkomstig van skuilings vir vroue in die dorp maar het ook karwagte asook vroue, wat normaalweg nie die middele het om hulself so ietwat te bederf nie, ingesluit.
Saartjie Lotter van Cosy Corner het haar fasiliteite beskikbaar gestel vir die doel.
Die groepie vroue het met hul aankoms koffie en iets te ete geniet waarna hulle naels en hare gedoen is.
‘n Motiveringspreker, Jessica Pillay het ook die groep toegespreek.
Die genotvolle oggend is afgesluit met ‘n smaaklike middagete. Elke vrou het ook elk ‘n geskenkpakkie met toiletware ontvang.
“Dit is Vrouemaand en daar is vroue in ons dorp wat nie altyd daartoe in staat is om hulself te bederf nie. Dit is waarom ons dit goed gedink het om die dag te reël,” het Coetzer gesê.
Zandra van Wyk, ‘n karwag in die dorp het gesê sy was baie dankbaar teenoor almal wat die geleentheid moontlik gemaak het.
“Dit is my verjaarsdag en nou kan ek mooi lyk en ek word bederf,” het sy gesê.





