Kind beseer toe hy in onbedekte mangat val
Kiano Pretorius was te voet op pad na ‘n winkel toe die voorval plaasgevind het.
‘n 13-Jarige seun is Woensdagmiddag beseer toe hy in ‘n oop mangat voor Boundaryweg 22 geval het.
Kiano Pretorius was te voet op pad na ‘n winkel toe die voorval plaasgevind het.
Hy het sy ribbes gekneus, sy pelvis beseer en ligte harsingskudding opgedoen.
Paramedici het hom op die toneel bygestaan, waarna hy na ‘n hospitaal vervoer is vir x-strale en ‘n CT-skandering.
Die mangat is ongeveer 2.5 tot 3 meter diep.
Toe die werkers, wat in die nabyheid was, hom sien inval het hulle nader gehardloop om te help en ‘n drywer is gestuur om Kiano se ma, Veronica Pretorius (35) te gaan haal.
‘n Werknemer van Secure Tech het ook stilgehou en die nooddienste ontbied.
Christo Pretorius (40), Kiano se pa, is ook dadelik in kennis gestel.
Volgens inligting plaas besighede in die omgewing gewoonlik ‘n hout- of staal bord oor die gat, maar dit word gereeld weggedra.
Talle kinders beweeg daagliks in die area, as gevolg van die skole naby Boundaryweg.
Die gesin beskik wel oor ‘n mediese fonds maar die onkostes vir Kiano se behandeling word uit die mediese spaarrekening gedek.
Dit veroorsaak dat die gesin hulself moontlik in die moeilikheid sal bevind indien daar weer ‘n noodgeval is.
Die mediese onkoste beloop tot dusvêr ongeveer R16 000.
Christo het die mangat intussen met ‘n houtbord bedek.





