Local news

Jare-lange hoof van Muriel Brand Skool groet finaal

Dr Japie de Jager het sy laaste dag in Desember gewerk, en sien uit na sy aftrede.

Na jare van toegewyde diens het Dr Japie de Jager, die jarelange hoof van Muriel Brand Skool, in Desember 2025 afgetree en van die skoolgemeenskap afskeid geneem.

“Ek was so ongeveer 27 jaar in die onderwys, waarvan ek die afgelope 10 jaar hoof by Muriel Brand Skool was,” vertel de Jager.

“Ek het ‘n diensonderbreking gehad van ongeveer 15 jaar. In daardie tyd het ek ‘n privaatpraktyk gehad as sielkundige.

“Ek het nooit werklik skoolgehou nie, maar het vanaf die begin van my loopbaan gewerk as sielkundige by die onderwysdepartement en by Muriel Brand Skool,” verduidelik hy.

De Jager het finaal afgetree nadat hy 65 geword het, en hy verhuis nou na Somerset-Wes toe.

“Ons het die afgelope paar jaar by Muriel Brand gebly, maar verhuis binnekort. Dit is iets waarna ons baie uitsien,” sê hy.

Van sy keuse van veld sê hy: “Ek het maar altyd ‘n behoefte gehad om ‘n verskil aan mense, veral kinders, se lewens te maak.

Dit is waarskynlik die rede vir my studies in opvoedkundige sielkunde, asook my passie vir kinders met spesiale onderwysbehoeftes.”

Volgens hom is leierskap en ’n leierskapstyl iets wat oor jare ontwikkel en gevorm word.

“Dit was altyd vir my belangrik om as leier die regte voorbeeld te stel en die skool te bestuur met konsekwente en duidelike standaarde, vir beide personeel en kinders,” sê hy.

“Alhoewel ‘n hoof se werk stresvol kan wees, is daar baie belonings en hoogtepunte. By Muriel Brand word kinders se prestasies nie net gemeet in terme van akademie en sport nie, maar dikwels in terme van ‘n kind se vordering in terapie, onafhanklikheid en persoonlike groei.

“Muriel Brand het baie mooi suksesverhale. Ons kinders presteer goed in gestremde sport. Byvoorbeeld, by die vorige Commonwealth Youth Games in Suid-Amerika het ons drie atlete gehad wat deelgeneem het. Een van die drie het ‘n goue medalje ontvang,” sê hy.

Akademies vaar hulle ook goed, met die slaagsyfer wat die afgelope jare op 100% gebly het.

“Heelwat van ons oudleerders gaan verder studeer op universiteit en behaal selfs nagraadse kwalifikasies,” spog hy.

Dit waarna de Jager die meeste gaan verlang, is die interaksie met die kinders, en om te sien hoe hulle oor ‘n tydperk ontwikkel en onafhanklik raak.

“Ek het groot lewenslesse by ons kinders geleer, soos om elke dag wat jy het te waardeer, met dankbaarheid te leef en diensbaar te wees. Gestremde kinders se positiwiteit, ten spyte van hul uitdagings, het my altyd verstom en geïnspireer,” sê hy.

In de Jager se tyd in die onderwys het baie verander.

“Ouers neig al hoe meer daarna om die verantwoordelikheid vir hul kinders se dissipline, geloofsontwikkeling, skoolvordering aan die skool oor te laat,” sê hy.

“Die onderwysdepartement stel ook al hoe meer administratiewe eise aan personeel. Daar is toenemend ‘n tendens om skole te mikro-bestuur.

“Ek kyk terug met groot dankbaarheid op ‘n uiters stimulerende en bevredigende loopbaan. Muriel Brand is tans ‘n goed-funksionerende skool, en ek vertrou dat my opvolger daarop sal voortbou.

“Ek sal altyd ‘n groot ondersteuner wees van Muriel Brand, en sal hulle altyd so op ‘n afstand aanmoedig vanuit die Wes-Kaap,” sluit hy mee af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button