Sonneveld-boekuitgewer deel pad na SterStatus-reeks vir vrouebemagtiging
Die platform is, volgens Leigh-Ann, 'n vrouebemagtigingsplatform, wat haar 'n hupstoot gaan gee in die media industrie.
Leigh-Anne Hill (41), eienaar van LBHAC Boekuitgewers, is een van die deelnemers aan die ETV-kanaal se reeks SterStatus.
Sy het reeds op 7 en 8 Maart aan die inleidingsnaweek by dié seisoen se venue in Sterkfontein deelgeneem.
SterStatus is ’n Suid-Afrikaanse vrouebemagtigings-TV-program wat jong vroue die kans gee om ’n professionele netwerk op te bou.
“Dit is meer as ’n program; dis ’n lewensveranderende reis wat geskep is om vroue toe te rus, op te hef en te posisioneer vir sukses in die vermaaklikheidsbedryf sowel as die alledaagse lewe,” sê sy.
“Deur gestruktureerde werkswinkels, mentorskap, uitdagings, mediablootstelling en handelsmerkbelyning, verander dit besigheidsvroue se lewens,” het Leigh-Anne verduidelik.
Volgens haar ontwikkel die reeks selfvertroue en doelgerigte vroue wat gereed is om te lei, te inspireer en ’n impak te maak. Die program rus deelnemers ook toe met werklike lewensvaardighede wat verder strek as die verhoog en skerm.
“As deelnemer is ek nie net besig om te kompeteer nie; ek leer, groei en word ’n verteenwoordiger van krag, integriteit en doelgerigtheid,” sê Leigh-Anne.
Deelnemers word geassesseer op betrokkenheid, hul optrede in uitdagings, interaksie met die SterStatus-handelsmerk, proaktiewe idees wat hulle lewer, en hul algehele entoesiasme as handelsmerkambassadeurs.
Die liefdadigheidsfokus van seisoen 8 lê Leigh-Anne na aan die hart en fokus op mishandelde vroue. Die program samel fondse en items in vir ’n vroueskuiling om hulle toe te rus met benodigdhede wat hul selfvertroue kan herstel en hulle voorberei vir nuwe geleenthede.
ALSO CHECK: City calls on residents to log strong smell complaints
Items wat ingesamel word, sluit in handsakke, toiletware soos aanrol- of spuit-deodorant, lyfroom, sjampoe, 2-in-1 sanitêre doekies, LipIce en ander bykomende produkte.
Daarbenewens word korporatiewe klere, grimeringstelletjies en skoene ook ingesamel sodat vroue met selfvertroue vir werk kan aansoek doen en onderhoude kan bywoon.
“Die program bou op verskeie maniere die gees en menswees van deelnemers en begunstigdes, en wys jou wat jy werklik kan bereik. Baie vroue verloor hul menswees omdat hulle soveel rolle moet vervul.
“Ek is ’n ma, suster, tannie, entrepreneur en internasionale boekuitgewer, maar partykeer verloor ons onsself as mens. Die reeks vra: ‘Wie is jy as vrou?’ en ‘Waar wil jy wees?’ Dit is hoe SterStatus ons bemagtig en ons vaardighede ontgin,” sê Leigh-Anne.
“Ek kan enige jong vrou in die land aanraai om in te skryf. Dis ’n groep ‘amazing’ vroue wat aanvullend, opbouend, aanmoedigend en passievol is – die droomspan van die jaar,” voeg sy by.
“Baie dankie aan die produksie span, deelnemers en beoordelaars vir die geleentheid,” sê sy.
ALSO CHECK: Murder investigation underway after body of young man found in Leachville Ext 2
As deel van haar projekte vir die reeks beoog Leigh-Anne om netwerkgeleenthede vir klein besighede by die Zoe Christian Bookshop, Coffee Shop and Roastery in Boksburg aan te bied.
Elke ontbyt begin om 10:00, en die datums waarop klein besighede kan aansluit, is 9 Mei, 11 Julie, 8 Augustus, 5 September en 3 Oktober. Die pakket sluit ontbyt, die netwerkgeleentheid en ’n geskenkpakkie in.
Die wins wat uit die ontbyte gemaak word, gaan aan die liefdadigheidsprojek. Nog ’n komende geleentheid is ’n karaoke-video-kompetisie, waarvan die finaal op 8 Mei om 20:00 regstreeks op sosiale media uitgesaai sal word.
Die opbrengs hiervan gaan ook aan die liefdadigheidsprojek. Om in te skryf, stuur ’n video aan Leigh-Anne op WhatsApp by 071 481 7120. Jy kan meer as een keer inskryf, en die sluitingsdatum is 8 April. ’n Inskrywingsfooi geld per video.
Vir meer inligting oor die projekte, of om haar SterStatus-reis te ondersteun, kontak Leigh-Ann by 071 481 7120.
Om haar reis te volg, kry Leigh-Anne op TikTok by @astralboom, Facebook by Leigh-Anne Hill (die blad) of op Instagram by @leighhill2908.



