Hoërskool Die Anker toneelgroep steun opknappingsprojek by teater
Die Ken Gampu teater in Springs is opgeknap deur die gemeenskap en die plaaslike Hoërskool se toneel leerders.
Hoërskool die Anker se toneelgroep is onder die groepe en individue wat 18 Julie gewoeker het om die Ken Gampu teater in Springs op te knap vir Mandeladag.
Die plaaslike wyksraadslid, Charmaine Kock, is deur die Allegretto Toneelfees genader om te help met die opknapping van die Ken Gampu-teater, waar skole van regoor Ekurhuleni binnekort aan die toneelfees gaan deelneem.
Die Anker, een van die skole wat drie stukke in die fees gaan opvoer, het ook gaan hand bysit om die teater en omgewing netjies te maak vir die fees.

“Al hierdie skole kom Springs toe, en ons wou hê hulle moet opdaag by ‘n skoon en netjiese teater.
“Verskeie besighede het bygedra om die projek ‘n sukses te maak, soos Hot Pot Paints wat verf geskenk het vir die heining,” het Kock gesê.
“Springs Garden Centre het plante en kompos verskaf, onder andere.”
Sy het bygevoeg dat die projek verder sal gaan op 10 Augustus met meer restourasiewerk wat beplan word vir die teater.
LEES OOK: Veritas College gives 67 minutes to East Rand Children’s Haven
Die Anker toneelspan het die geleentheid met ywer aangepak, en geleer dat liefde vir die teater nie ophou by die kyk, opvoer of tegniese bewerking van tonele nie, maar dat die groter gemeenskap daarby baat en kan bydra.
“Met baie gewillige hande, ‘n positiewe gesindheid en ‘n hart vir ons gemeenskap, het ons Ankers ‘n skoner en mooier verskil gemaak,” sê Elmarie Warnick, ‘n woordvoerder vir die skool.
“Baie dankie aan elke leerder wat deel was van hierdie besondere gemeenskapsinisiatief. Julle maak ons trots!”

“Wanneer ook al daar ‘n roep om hulp is, of nou om skoon te maak of gras te sny, die gemeenskap is altyd bereidwillig. Ons moet daardie houding volhou sodat ons dorp iets sal wees waarop ons trots is,” sê Kock.
Wayne van der Schyff-Smal van die Allegretto Toneelfees het vertel dat die viering van Mandeladag nuwe beginne simboliseer, en die omarming van samesyn waarvoor Madiba gestaan het.
“Die idee was om saam te staan en ‘n beter gemeenskap te skep. Wanneer mense saam staan maak hulle ‘n verskil.
“Ten spyte van die uitdagings wat ons in die gesig staar en die struikelblokke wat ons munisipaliteite beleef, kan ons ‘n blywende impak hê,” het hy gesê.
LEES OOK: Donate clean jars, dried grains, pasta for Tweedy Park soup packs







