Dalpark Kaléo maak reg vir Safari-kermis
Molly en Wors skop die Safari-kermis op 31 Julie af, waarna 'n dag vol optredes, kos en gesinspret op 1 Augustus volg.
Die gemeenskap word genooi om op 31 Julie en 1 Augustus deel te wees van Dalpark Kaléo Gemeente se jaarlikse Safari-kermis, wat twee dae van vermaak, heerlike kos en aktiwiteite vir die hele gesin beloof.
Die feesvieringe skop op 31 Julie af, wanneer die gewilde komedieduo Molly en Wors, vertolk deur Willie Esterhuizen en Lizz Meiring, die gehoor sal laat skaterlag tydens ‘n spesiale vertoning.
Stalletjies sal reeds van die laatmiddag af oop wees, sodat besoekers die kermisgees kan ervaar. Kaartjies vir die vertoning kan steeds bespreek word.
Die hoofdag vind op Saterdag 1 Augustus plaas by Dalpark Kaléo Gemeente, Boekenhoutstraat 22, Dalpark. Die verrigtinge begin vroeg en beloof iets vir elke lid van die gesin.
Plaaslike kleuterskole sal vanaf 09:00 met vrolike optredes die dag afskop, terwyl besoekers deur die loop van die dag ‘n groot verskeidenheid stalletjies kan besoek.
LEES OOK: Vacant Brakpan property blamed for crime, pollution and safety hazards
Besoekers kan ook uitsien na ‘n wye verskeidenheid kos, met alles van tradisionele kermisgunstelinge tot smaaklike etes en lekkernye.
“Ons wil graag die hele Brakpan-gemeenskap nooi om saam met ons te kom kuier.
“Die Safari-kermis is ‘n geleentheid waar mense van alle ouderdomme welkom is om saam te lag, lekker te eet, plaaslike uitstallers te ondersteun en nuwe herinneringe te skep,” sê die organiseerders.
Toegang tot die kermis is oop vir die publiek, en almal word aangemoedig om familie en vriende saam te bring vir ‘n dag vol gemeenskapsgees, ontspanning en pret.
Vir meer inligting, besoek Dalpark Kaléo Gemeente se Facebook-blad of skakel die organiseerders by 083 799 4872.



