WATCH: Brakpan akteur wen internasionale toekennings vir kortfilm
Die plaaslike akteur en filmmaker Albert van Vuuren het bewys dat talent, deursettingsvermoë en ’n goeie storie ver kan gaan.
Die plaaslike akteur en filmmaker Albert van Vuuren (61) het onlangs internasionale erkenning ontvang toe sy produksiemaatskappy, Rising Star Studios, twee toekennings by die Lift-Off Global Network Awards vir sy kortfilm No Way Out ingepalm het.
Die netwerk is in die VSA gebaseer, met sy hoofkantoor in Los Angeles, en het aan Albert die gehoorkeuse toekenning vir beste skurk, asook die toekenning vir beste kortfilm toegeken.
Rising Star Studios is die produksiemaatskappy van Albert en Christian Kok, en No Way Out is die maatskappy se eerste produksie.
“Ek is nogal `happy’ met die toekennings,” sê Albert, wat ook nog in Mrs Plum moet verskyn, sowel as in die plaaslike Netflix-drama Umthetho. Een van sy kortfilms, wat deur Christiaan geskryf is, gaan moontlik deur ’n groter produksiemaatskappy vervaardig word.
Albert het eers later in sy lewe ernstig by die filmbedryf betrokke geraak en onlangs ’n kursus in filmvertolking voltooi om sy teater- en drama opleiding aan te vul.
Hy kry redelik baie rolle as agtergrondkarakters of karakters wat nie praat nie, maar sy spreekbeurte raak al hoe meer namate hy bekendheid in die bedryf verwerf.
Sy volgende doelwit is om filmtoerusting, soos ligte, mikrofone en digitale kameras, vir sy produksiemaatskappy aan te skaf, aangesien die toerusting wat vir No Way Out gebruik is, geleen was.
Intussen kan hy ook hier en daar in advertensies gesien word, wat volgens hom beter betaal as TV-rolle.
Albert word gereeld as ’n polisieman, skurk of weermaglid in TV-reekse of films gekies, wat in die industrie as “typecasting” bekend staan, maar hy voel glad nie sleg daaroor nie.
“Ek was in die militêre polisie, en ek lyk seker streng, so ek kry streng rolle, maar gelukkig kry ek rolle,” sê hy.
LEES OOK: Accident prompts questions over long-standing Springs Road pothole
Soms kry hy ’n draaiboek in Engels vir oudisies en word hy dan gevra om dit in Afrikaans te doen. Hy moet dit vinnig self vertaal, iets wat hy voel indrukwekkend is vir rolverdelingsregisseurs.
Hy is ook trots op dit wat hy al bereik het, veral met sy kortfilm, wat hom slegs R2 000 gekos het, terwyl kortfilms van dié aard regisseurs gereeld R40 000 kan kos.
“Met die bietjie tot my beskikking doen ek baie. Ek sal nooit ’n gesoute akteur wees nie, maar ek hou van wat ek doen. Ek stel ’n doelwit en ek doen dit, ek bereik en streef. Ek wil alles doen, die lewe is so kort,” verduidelik hy.
Albert het al resies gery, gaan gereeld saam met haaie duik en doen motorfietstoertjies, alles om die lewe interessant te hou.
Hy is ook die nasionale president van die Ghost Riders Motorfietsklub. Sy dagtaak is eintlik om voertuie te verkoop, maar hy het vele passies en hoop om nog meer daarmee te bereik.
LEES OOK: Brakpan police strengthen school safety through regular engagements



