Eenjarige metgesel steel die kollig by Hoërskool Stoffberg se matriekafskeid
Die matriekafskeid was vir Billy van Zyl ‘n hoogtepunt van sy skoolloopbaan en hy is bly da thy sussie deel daarvan gemaak het.
Brenthurst inwoner, Billy van Zyl het die kollig vir ’n oomblik gesteel by die Hoërskool Stoffberg se matriekafskeid, wat onlangs plaasgevind het, toe hy met ’n besonder oulike metgesel, wat skaars ’n paar bakstene hoog is, opgedaag het.
Sy metgesel was inderdaad só klein dat hy haar sommer in sy arms kon dra.
In haar kleurvolle valletjiesrokkie het sy eenjarige sussie, Leoné van Zyl, behoorlik harte laat smelt terwyl sy self al die aandag geniet het.
Billy vertel dat hy aanvanklik nie ’n metgesel vir sy matriekafskeid gehad het nie en dat sy gesin met die idee vorendag gekom het dat hy maar sy sussie moes saamneem.

Daar is vir haar ’n pragtige rokkie in reënboogkleure gemaak en sy “date” vir die aand was in plek.
“Ek het intussen wel ’n metgesel gekry, maar tog besluit om my sussie steeds deel van die spesiale aand te maak,” het Billy gesê.
Hul ma, Vanessa, het vertel dat Leoné baie lief is vir aandag en dat sy haarself gate uit geniet het.
Billy en sy metgesel, Daniella Mathee, het saam na die geleentheid, wat by Thabong gehou is, gery, met klein Leoné wat nuuskierig by die motorvensters uitgeloer het.
Met hul aankoms het Billy eers met Leoné op sy heup uitgeklim om, soos die gebruik by matriekafskeide is, op die rooi tapyt te verskyn.

“Leoné het heeltyd rondgekyk en ek kon sien dat sy in haar noppies was,” het Billy vertel.
Nadat hy sy sussie vir hul ma gegee het, het hy Daniella op die rooi tapyt vergestel voordat hulle die matriekafskeid saam geniet het. Oor die afskeid self het Billy net goeie woorde gehad.
“Dit was werklik ’n puik funksie met soveel verrassings. Alles was perfek, van die atmosfeer tot die toesprake en die kos. Dit was beslis ’n hoogtepunt van my skoolloopbaan,” het hy gesê.
“En boonop sal ek en my sussie altyd mooi foto’s hê om na terug te kyk.”
OOK LEES: Brakpan VLU sluit jaar af met verkiesing, prysuitdeling
OOK LEES: Brakpan’s finest shines at Ekurhuleni Readers’ Choice Awards



