Henke Vorster (48) is ’n gebore Brakpanner wat op sy gelukkigste is agter ’n klawerbord of die klavier. Hy het onlangs sy vierde CD die lig laat sien en volgens hom is daar nog groot dinge wat wag.
• Op watter ouderdom het jy begin musiek maak?
Die gogga het so sewe jaar gelede gebyt, alhoewel ek nog altyd ’n belangstelling in musiek gehad het.
• Watter instrumente speel jy?
Die klawerbord is beslis my gunsteling, maar ek speel ook klavier.
• Wat is jou gunsteling musiek?
Ek hou van jazz, country en die blues en natuurlik boeremusiek.
• Jy het onlangs ’n nuwe CD, Henke Boerepret, op die rakke gebring. Vertel meer daarvan.
Ek is baie opgewonde oor die CD. Dit het harde werk geverg, maar dit was die moeite werd. Ek sou sê dit is my beste werk tot dusvêr. Dit word reeds deur verskeie radiostasies gespeel. Dit is beslis die luister werd.
• Is dit jou eerste CD?
Nee, dit is die vierde een. Ek en Riaan van Rensburg van Noot vir Noot het saamgewerk aan my eerste CD. Die tweede een, is getiteld Vingertaal en met die derde een het ek saam met Dylan Emsly gewerk.
• Watter toekennings het jy al ontvang?
In 1996 is ek aangewys as Suid-Afrika se klawerbordspeler van die jaar. In 2003 was ek ’n finalis in kykNet se Sakkie Langarm. In 2011 het ek weer die finaal bereik van die kykNet Vastrap-reeks. Ek het ook al aan verskeie kompetisies van die Boeremusiek Gilde deelgeneem en gewen.
• Wat geniet jy om te doen wanneer jy nie musiek maak nie?
Om die wêreld te sien maar die tyd daarvoor is beperk. My lewe draai om musiek en nuwe uitdagings is vir my lekker. Ek gaan op 7 Oktober vir die bekende sanger Nadine, wat tans Musiek Roulette op SABC 2 aanbied, klawerbord in Namibië speel. As dit goed gaan, is daar ’n moontlikheid dat ek permanent by haar groep kan aansluit om vir haar klawerbord te speel.
• Waar is jou gunsteling vakansieplek?
Ek hou van die laeveld en dit is vir my ook lekker om by die ATKV-oorde te ontspan. Maar die see en die bos roep my soms. Maar ’n vakansie is net lekker as jy saam met die regte mense is.
• Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Ek sal steeds in die musiekbedryf wees en ek sal hard besig wees om my eie “brand” te ontwikkel. Natuurlik is dit ’n doelwit van my dat ’n toekomstige CD platinumstatus sal bereik.
• Wat sal jou dag omkrap?
Enigiemand wat nie kan bestuur nie, ’n vuil huis en mense wat skinder en ander sleg maak.
• Sal jy hol as jy ’n slang teëkom?
Nee, dit gaan sterf as ek my gaan vererg.



