Larrendale inwoner Roanné Coetzer (18), wat verlede jaar gematrikuleer het aan Helpmekaar Kollege, in Johannesburg, het nege onderskeidings behaal in die finale matriekeksamen.
Roanné beplan om bedryfsingenieurswese te studeer aan die Universiteit van Stellenbosch.
- Hoe sal jy jou matriekjaar beskryf?
Matriek was baie uitdagend, maar dit was een van die beste jare van my hoërskoolloopbaan met fantastiese herinneringe.
- Wat sal jou raad aan hierdie jaar se matrieks wees?
Werk doelgerig en voluit regdeur die jaar – al raak dit soms moeilik, byt op jou tande en moenie moedeloos raak of jou pas verslap nie. Op die ou end is jou vasbyt die moeite werd.
- Wat was jou hoogtepunt en laagtepunt van jou matriekjaar gewees?
Die matriekafskeid en matriekgraduering saam met my vriende was vir my ‘n absolute hoogtepunt.
Die laagtepunt was dat die tyd so vinnig verbygevlieg het en dat ek vir baie van my vriende, onderwysers en my wonderlike skool moes totsiens sê. Ek gaan hulle baie mis.
- Watter prestasie/s wat jy al bereik het oor die jare is vir jou merkwaardig?
Daar was al so ‘n paar prestasies, onder andere:
– Dat ek deurgedring het na Eskom Ekspo vir Jong Wetenskaplikes se internasionale rondte.
– dat ek ‘n silwer medalje gewen het in Los Angeles, VSA by die World Championships of Performing Arts dramakompetisie;
– dat ek voorverlede jaar die FAK se nasionale wenner in die poësie-afdeling was.
– dat ek die trofee vir die beste volgehoue prestasie in wiskunde, fisiese wetenskap en lewenswetenskap van graad 10 tot 12 gewen het.
Máár die grootste eer wat my te beurt geval het, was dat ek een van vyf matriekleerlinge, uit die groep van 172 was, wat Helpmekaar se Erewapen ontvang het. Dit is nie iets waarvoor jy werk nie – dit is ‘n wonderlike eer as dit aan jou oorhandig word.
Helpmekaar Kollege het ook op die skool se Facebook-blad die video geplaas met die volgende boodskap:
“Roné Coetzer, een van Helpmekaar én IEB se toppresteerders, se onderhoud op e-nuus ten tyde van die bekendmaking van IEB-matriekuitslae.”
- Wat is die hoofredes vir jou kursus- en universiteitskeuse?
Ek is mal oor organisering en projekbestuur. Bedryfsingenieurswese gaan vir my die perfekte platform en basis daarvoor bied.
Wat universiteite betref – ek het verlief geraak op Stellenbosch en wil my graag in die Kaap vestig.
- Waar sien jy jouself oor 10 jaar?
Ek wil graag oor 10 jaar my Meesters- en Doktersgrade onder die knie hê en gevestig wees in ‘n goeie pos plaaslik of in die buiteland.
- Wat is jou stokperdjies?
Lees, skilder, fotografie, wildbesigtiging, skryf en musiek.
- Waar is jou gunsteling vakansiebestemming en hoekom?
Die wildtuin, want ek is mal oor die stilte en rustigheid van die natuur en om my passie vir wildfotografie te beoefen.
- Hoe hanteer jy uitdagings en teleurstellings?
Ek pak uitdagings aan met positiwiteit, durf en daad.
Na ‘n teleurstelling probeer ek my kop baie vinnig weer oplig en aangaan. Die lewe is te kort om te tob oor teleurstellings.
- Wat is jou grootste vrees?
Mislukking.
- Wie is jou rolmodel en hoekom?
My ma is my rolmodel, want maak nie saak hoe moeilik ‘n uitdaging is nie – sy pak dit aan sonder om te kla. Dit is ‘n baie goeie voorbeeld vir my.
- Iets wat mense nie van jou weet nie?
Ek wil, naas ‘n bedryfsingenieur, ook ‘n skrywer word. Ek beoog om dit so op die kantlyn te beoefen.
- Iets wat jy wil byvoeg?
My dankbaarheid teenoor my Skepper asook al die mense in my lewe wat my met liefde en toewyding ondersteun en bystaan kan nie in genoeg dankies uitgedruk word nie.
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)



