Jong krieketspelers slaan ’n ses
“Die 192 krieketspelers wat deelgeneem het, het weereens hul krieket talente ten toongestel en hierdeur bewys dat laerskole puik krieketspelers ontwikkel.”
Laerskool Die Arend het vanjaar vir die negende agtereenvolgende jaar weer ’n suksesvolle Super 16 kriekettoernooi aangebied.
Tydens die toernooi het 16, o-13 krieketspanne teen mekaar meegeding om die gesogte wisseltrofee asook prysgeld.
Die toernooi bestaan uit twee afdelings, naamlik die beker- en die plaatafdeling.
“Die toernooi word aangebied danksy die hoofborg KFC Brakpan wat krieketontwikkeling ondersteun,” het die organiseerder Tommy Momberg gesê.
“Tydens die week was daar 22 wedstryde gespeel wat beslis was oor 12 boulbeurte per span.”
“’n Bouler kon ’n maksimum van twee boulbeurte afstuur,” het Momberg bygevoeg. Elke speler en afrigter het ook elke dag ’n ete ontvang vanaf KFC saam met die geborgde rugsakke en pette.
“Die 192 krieketspelers wat deelgeneem het, het weereens hul krieket talente ten toongestel en hierdeur bewys dat laerskole puik krieketspelers ontwikkel,” het Momberg gesê.
Laerskool Rynfield is vanjaar as bekerwenners gekroon in ’n naelbyt eindstryd teen die Laerskool Dalview.
In die plaatafdeling het Laerskool Selectionpark as wenners weggestap en Laerskool Tini Vorster as naaswenners.
Dominic Hendricks van die Bizhub Highveld Lions het ook deur die loop van die toernooi ’n draai gaan maak om met die seuns te praat, wenke te bied en die toernooi te ondersteun.
Spelers van die Laerskool Dalview het self vir hom ’n paar balle geboul en hy het gewys wat in hom steek.
Volg ons:
Ontvang die nuutste nuus op jou foon:
WhatsApp nommer: 0794306641 (voeg ons by jou kontaklys en stuur jou naam en van op WhatsApp)
BBM pin: 7F7A9F13



