Ondersteun plaaslike rofstoeier, Jackal se laaste geveg in Brakpan
'n Professionele rofstoeier van Brakpan gaan uit die sport tree met een laaste geveg, wat op 28 November by Old Town Road Saloon.
Gerhard “Jackal” Kuyper (52), wat al meer as 20 jaar in Dalview woon en 17 jaar lank as professionele rofstoeier in die kryt gestaan het, gaan sy stoeiloopbaan op skouspelagtige wyse afsluit. Hy beplan om met ’n behoorlike “bang” uit die sport te tree.
Sy geveg teen Hector Payne van Kempton Park vind op 28 November by Old Town Road Saloon in Benoni plaas, as deel van ’n besige program.
Die hekke open om 10:00, waarna die boksgevegte om 12:00 begin. Ander rofstoeigevegte begin om 15:00, terwyl Kuyper se hoofgeveg om 17:00 plaasvind.
Kuyper was aanvanklik ’n rugbyspeler, maar het gevoel dat hy te oud vir die sport begin raak en het besluit om eerder rofstoei op die proef te stel.
Die gogga het nie onmiddellik gebyt nie, en hy moes ’n paar keer teruggaan om aan die sport gewoond te raak. Maar toe die gogga eers byt, het hy hard gebyt.

Hy het sy eerste geveg in die professionele rofstoeiwêreld tydens die destydse Biltongfees by Laerskool Die Arend gehad. Hy het ook die South African Pro Wrestling (SAPW)-promosie, wat in Brakpan gebaseer is, op die been gebring.
Hy was ’n tyd lank die eienaar en bemarker van die SAPW-promosie, maar het die promosie kort ná die Covid-pandemie verkoop.
Die rofstoei waaraan Kuyper deelneem, beskryf hy as “hardcore”-rofstoei. Gevegte word dikwels met wapens en voorwerpe soos ligbuise, tafels, stoele, doringdraad en duimspykers in die ring gevoer.
Promosies van die Wes-Rand, Gauteng, KwaZulu-Natal, Gqeberha en Kaapstad is by die professionele “hardcore”-rofstoeikring betrokke, en die sport het oor die jare ’n redelike aanhangersbasis opgebou.
“Ek was al selfs op TV op Coenie de Villiers se program ’n Ander Wêreld. Net ná Covid het dinge ’n duik gevat, en ek het my promosie verkoop, maar ek het steeds op ’n vryskutbasis aan gevegte deelgeneem,” sê Kuyper.
ALSO READ: Special outing benefits Tutela at Koko’s Bowling
“Tot vandag toe is ek die SAPW-hardcorekampioen, maar in die laaste jaar of so het ek nog nie ’n geveg gehad nie. Ek het aan ’n uittreegeveg gedink en ’n paar uitnodigings gekry, maar ek was baie kieskeurig oor wie ek in my laaste geveg wou aandurf.”
Van die groot name in die bedryf teen wie Kuyper al geveg het, of wat al in die SAPW-promosie geveg het, is The Crow van die Oos-Rand, Hector Payne, Hananzi van die Wes-Rand, Steven Tornado, Jason the Terrible en Black Ice van Limpopo.
“Rofstoei is vir my ’n groot passie. Ek doen dit vir die kinders wat ’n foto saam met my wil neem, nie vir die geld nie. Dit is net lekker om te sien hoe mense jou herken,” sê Kuyper.
“Ek het al regoor Suid-Afrika gestoei, baie keer by ‘biker rallies’, feeste en vlooimarkte. Voor die geveg berei jy jou goed voor, strek jy om beserings te voorkom, warm jy op en kom jy in die ‘zone’.”
Kuyper het al beserings opgedoen, onder meer toe hy sy biseps geskeur het en ’n operasie moes ondergaan om dit weer aan te heg.

“Jy moet weet wanneer om af te tree. Doen dit net voordat jy dit te ver vat en permanente skade aanrig,” sê hy.
In die ring is Kuyper ’n rowwe karakter, hoewel hy in die sport as ’n “baby face” bekend is. Gedurende die week is hy egter ’n doodgewone korporatiewe man in die finansiële sektor wat langmouhemde met krae dra.
As ’n “baby face” veg hy gewoonlik teen diegene wat as “villains” bekend staan. Sy karakternaam, “Jackal”, is gekies na aanleiding van die Bruce Willis-fliek The Jackal, omdat hy, soos die hoofkarakter, die “villains” uithaal.
Sy raad aan jong stoeiers wat dit oorweeg om tot die sport toe te tree, is: “Doen dit vir die regte rede, uit passie en nie vir geld, ‘fame’ of ‘glory’ nie. Moet dit nie doen om ’n ‘big shot’ te wees nie. Dit kom vanself as jy passie het.”
Hoewel Kuyper aanvanklik self gedink het die sport is “kommin”, het hy oor die jare geleer dat dit ’n kuns is wat baie skerp vaardighede verg.



