Editor's choiceEntertainmentLifestyle

Pannefees gaan lekker wees

Inwoners kan maar solank hul vere regskud vir ‘n reuse fees wat op 4 en 5 Oktober op die sportgronde van Laerskool Die Arend aangebied word.

Die NG Kerk, Brakpan Gemeente gaan oor dié twee dae ‘n Pannefees aanbied.

Die fees skop reeds Vrydag om 2nm af en later die aand word ‘n straatmyl gehardloop.

Deelnemers gaan om 6.30nm by die VC Super Spark in Dalview wegspring en na die feesgronde hardloop.

Saterdagoggend sal ‘n groot optog met vlotte asook voertuie van die weermag en trompoppies deur die dorp beweeg.

Die optog sal om 8.30vm vanaf die Sherwood inkopiesentrum in Brakpan-Noord vertrek en in Voortrekkerweg op beweeg na die Arend se sportgronde.

‘n Heerlike dag van vermaak met ‘n propvol arenaprogram wag op die feesgangers.

Sangers soos André uit die heupe, Chantell, Ilana, Dries, Kyle, Danny Tanner, Wilma-Dee, Zane, Chantél, Cecily en Telchan gaan deur die loop van die dag optree.

Daar sal ook ‘n uitstalling van veteran motors en motorfietse wees.

‘n Mej Lente Pannefees sal ook aangebied word vir tieners en jong vroue vanaf 13 tot 28 jaar.

“Ons beplan ‘n groot fees en ons nooi almal uit om die twee dae se aktiwiteite saam met ons te kom geniet,” het ‘n organiseerder gesê.

Die hekke sal Vrydag om 2nm open tot 9nm en Saterdag om 8vm tot 10nm.

Persone wat aan die straatmyl wil deelneem of ‘n stalletjie vir die dag wil bespreek of aan die Mej Lente Pannefees kompetisie wil deelneem kan Martie Greyvenstein op 081 869 6766 of Tony Blunden op 083 288 0774 kontak.

Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button