Brakpan bied interklub kompetisie aan
Brakpan Stoeiklub het Saterdag, 19 Julie, hulle jaarlikse interklubkompetisie by die Brakpan Binnehuis Sport Sentrum aangebied en, soos in die verlede, was dit weereens 'n reuse sukses.
Brakpan Stoeiklub het 17 klubs van, onder andere, Oos-Gauteng, Sedibeng, Sentraal Gauteng, Noord-Gauteng, Noord-Wes, Mpumalanga en KwaZulu-Natal gehad wat by die klub kom stoei het.
Brakpan is bekend as ‘n klub met goeie stoeiers en die stoeigemeenskap van Suid-Afrika is nie skaam om te ry om by die klub te kom stoei nie.
Hulle was dié jaar in besonder bevoorreg om die Wêreld Meesters-span by die klub te hê, en hulle het hul Saterdagoggend oefensessie by Brakpan Stoeiklub gehou, voor die begin van die toernooi.
Veertien Suid-Afrikaanse stoeiers neem van 26 tot 31 Augustus aan die Wêreld Meesterskampioenskappe in Belgrado, Serwië, deel.
Suid-Afrika het verlede jaar in Sarajevo 10 medaljes gewen en drie wêreldkampioene, Willem Putter, Chris Sutton en Jurie Reichel, opgelewer.
Nege van die 12 stoeiers wat verlede jaar deelgeneem het, sal weer vanjaar in aksie gesien word.
Putter is Suid-Afrika se mees ervare stoeier en neem vir die 15de keer deel.
Hy het reeds agt goue, vyf silwer en een brons medalje verower.
Sewentig Suid-Afrikaanse stoeiers het die afgelope 20 jaar aan die Wêreld Meesterskampioenskappe deelgeneem, waar 22 stoeiers ‘n totaal van 50 medaljes gewen het.
Die land het reeds ses wêreldkampioene opgelewer.
Stoeiers neem op meestersvlak in beide ouderdom en gewigsafdelings deel, en moet minstens 35 jaar oud wees.
Die spanlede is Willem Putter, Francois Pienaar, Johan Uys, Chris Sutton, Jurie Reichel, Fanie Vermaak, Leendert Meyer, Arno van der Merwe, Monty de Beer, Bernard van Deventer, Andrew Patrick, Johan Voigt, Gerhard Vorster en Shaun van der Merwe.
Die SA meesters, wat wêreldwyd bekend is vir hulle fiksheid, het die Saterdag, voor die aanvang van die “Brakpan Challenge” stoeitoernooi, ‘n oefening in die saal gehou.
Dié ervare manne het bevestig dat Brakpan van die heel beste stoeifasiliteite in die land beskik.



