Vrou sal van voor af moet leer loop na ongeluk wat haar man eis
Die 32-jarige vrou wat Sondagaand ernstig beseer is in ‘n ongeluk, wat die lewe van haar man geëis het, sal Vrydag ‘n operasie ondergaan.
Volgens ‘n familielid het Alida Brits ernstige beserings aan haar bene, pelvis, kop en nek opgedoen. “Ons is ingelig dat sy waarskynlik weer van vooraf sal moet leer loop. Daar lê ‘n baie lang pad van herstel vir haar voor,” het die familielid , wat versoek het dat haar naam nie gepubliseer word nie, gesê.
Alida was Sondagaand saam met haar man Dirkie (40) en hulle twee kinders, Madelyn (13) en Leoni (10) op pad na hul huis in Stoffberglaan toe die ongeluk plaasgevind het.
‘n 64-Jarige man wat in die rigting van Benoni gery het, het in Mainreefweg glo kop aan kop met die Brits-gesin se silwer Corsa gebots.
Dirkie is op die toneel oorlede. Die Corsa het glo gerol en bo op Alida te lande gekom. Madelyn het ‘n been en enkel gebreek en ernstige beserings aan haar gesig opgedoen.
Leoni is na die ongeluk vir skraapwonde en kneusplekke oor haar hele liggaam behandel. Sy het ook steke aan haar gesig gekry.
Die bestuurder van die ander voertuig is in hegtenis geneem en word aangekla van strafbare manslag en dronk bestuur.


Gelukkig tye. Dirkie Brits, wat in die ongeluk gesterf het saam met Madelyn en Leoni.



