Editor's choiceEntertainmentLifestyle

Warm solank op vir die Just Wheels Motorskou

Dit is weer tyd om vere reg te skud vir een van die vinniggroeiende motorskoue op die Oos-Rand.

Die Just Wheels Motorskou 2018, wat volgende Saterdag plaasvind, beloof om groter as ooit tevore te wees en motorgeesdriftiges kan hulself regmaak vir ’n skou in top-versnelling.

Die motorskou, wat jaarliks by die Muriel Brand Skool aangebied word, het verlede jaar meer as 3 500 besoekers, wat meer as 600 klassieke motors kon besigtig, gelok. Die skou is ook deur meer as 100 uitstallers ondersteun.

Fondse wat op dié dag ingesamel word, word aan Muriel Brand Skool geskenk.

“Vanjaar bring ons weer ’n groot verskeidenheid motorverwante aktiwiteite rondom die kern-uitstalling van klassieke voertuie, soos die nou gewilde 4×4-baan wat by die skool gebou is,” het Bart Zaayman, organiseerder en lid van die Just Wheels Motorklub gesê.

Of jy ’n petrolkop of adrenalien-verslaafde is, die skou bied iets vir almal.

Verlede jaar kon besoekers aan die skou meer as 600 klassieke voertuie besigtig.

Benewens die voertuie wat op uitstalling is en die 4×4-aktiwiteite sal die besoekers ook weer die ossewa, wat jaarliks ’n groot trekpleister is, trekkers en stilstaande enjins asook ’n paar renmotors en radio-beheerde 4×4-motors kan geniet.

Volgens Zaayman sal daar ook vanjaar ’n baie groot versameling van Cobra voertuie op die skou wees.

Lees ook: Just Wheels Motorklub hou opedag

Musikante soos Die Ventertjies, Die Kitaar Kêrels en Taipan gaan ook deur die loop van die dag optree.

“Met ’n seremoniemeester soos Danie van der Westhuizen, wat self ook ’n liedjie of twee gaan sing, gaan daar voorwaar nie ’n tekort aan vermaak wees nie,” het Zaayman gesê.

Hy het ook die versekering gegee dat daar geen tekort aan eet- en drinkgoed sal wees nie.

“Ons besef dat dit ekonomies minder goed gaan en dat geld vir ontspanning maar skraps is.

“Tog wil Just Wheels en Muriel Brand Skool hê dat elke Brakpanner in die pret kan deel. Daarom is die toegangsfooi slegs R30 vir volwassenes en R10 vir kinders,” het Zaayman bygevoeg.

Besoekers word versoek om vanjaar weer Helpende Hand se bring-’n-blikkie projek te ondersteun en ’n nie-bederfbare voedsel item saam te neem.

“Die San Michelle Tehuis benodig ook dringend 200 komberse en ons sal dit opreg waardeer indien die publiek op die skoudag ook komberse kan skenk,” het Zaayman versoek.

“Ons probeer ook elke jaar om ’n verrassingselement na die skou te bring en vanjaar is geen uitsondering nie.”

Zaayman wou nie die aap uit die mou laat nie, maar het gesê dat die verrassing ongeveer 10vm sal “land”.

Hy het ook bygevoeg dat dit nog nie te laat is om deel van die Just Wheels Motorskou te wees nie.

Besighede en uitstallers wat nog betrokke wil raak kan vir Zaayman by 083 390 8589 kontak.

Persone wat nog vlooimarkstalletjie wil bespreek kan ’n e-pos na Leonora.v@murielbrand.co.za stuur.

Geen kosstalletjies is meer beskikbaar nie.

• Lees ook die berig op bladsy —— oor die stryd wat gevoer word teen onwettige storting van rommel op die 4×4 baan.

Volg ons:

Instagram
Twitter
Facebook

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button