Brenthurst vrou hoop gesteelde trourok word teruggevind
Brenthurst-inwoner Lucy du Plooy hoop steeds haar spesiaal ontwerpte trourok sal teruggevind word nadat dit tydens 'n huisbraak gesteel is.
Vir die meeste mense is ‘n trourok net ‘n kledingstuk, maar vir Brenthurst-inwoner Lucy du Plooy is dit ‘n simbool van ‘n lewenslange droom en kosbare herinneringe.
Ná ‘n huisbraak waarin talle waardevolle besittings gesteel is, is dit egter haar spesiaal ontwerpte trourok wat haar die grootste hartseer besorg.
Haar pleidooie vir die veilige terugkeer daarvan het tot dusver op dowe ore geval. Lucy du Plooy (38) se lewe is op 30 Mei vanjaar omgekeer toe daar by haar gesin se huis ingebreek is.
“Toe daar by ons ingebreek is, het hulle feitlik ons hele lewe saam met hulle geneem. My professionele kameratoerusting, skootrekenaars, TV’s, selfone, ‘n blaarblaser, foto-albums, geheuekaarte met al ons kosbare foto’s en vele ander sentimentele besittings wat eenvoudig nie vervang kan word nie,” het Lucy vertel.
Die grootste verlies is egter haar pragtige trourok waarin sy op 3 November 2018 getrou het.

“Daardie trourok was soveel meer as net ‘n rok vir my. Ek het dit spesiaal laat maak, presies volgens die ontwerp waarvan ek as klein dogtertjie altyd gedroom het,” het Lucy gesê.
“Ek was bevoorreg genoeg om my droomrok professioneel te laat maak, en dit was alles waarop ek ooit gehoop het.
“My dogtertjie het selfs altyd gesê sy wil eendag in dieselfde rok trou.”
Volgens Lucy is drie verdagtes, onder wie ‘n vrou, later aangekeer.
“Ek het haar gesmeek om asseblief vir my te sê waar my rok is. Ek het haar vertel hoeveel dit vir my beteken, maar al wat sy oor en oor gesê het, was: ‘Nee, jammer.’
ALSO READ: Brakpan CPF discusses crime challenges and community solutions
Lucy het foto’s van haar spesiale trourok, asook haar pleidooie, op sosiale media geplaas, maar tot dusver het niemand na vore gekom nie.
“Ek hoop steeds dat my trourok eendag gevind sal word. Vir iemand anders is dit dalk net ‘n stuk materiaal, maar vir my dra dit ‘n leeftyd se drome, herinneringe en emosionele waarde wat nooit vervang kan word nie,” het sy gesê.
“Ek kan maar net hoop dat iemand dalk probeer om die rok te verkoop. Daarom het ek foto’s daarvan op sosiale media geplaas.
“My hoop is dat iemand die rok êrens sal raaksien en met my in verbinding sal tree.”
Lucy kan by 071 161 6140 gekontak word.

ALSO READ: Brakpan police take GBV awareness campaign to informal settlement



