Local news

KYK: Bekende KI kunstenaar ondersteun plaaslike kwadrupleeg

Die sagteware laat die plaaslike kwadrupleeg toe om haar liedjies wat vir jare in laaie gelê het uit eindelik te toonset en produseer, en verg meer inset en werk as wat mense verwag.

Dianne Fourie (50), wat 14 jaar gelede in ‘n botsing met ‘n polisievoertuig by die Stoffberg-duikweg betrokke was, is sedertdien ‘n kwadrupleeg.

Voor die ongeluk was Dianne ‘n talentvolle kitaarspeler. Onlangs het sy egter ‘n spesiaal aangepaste kitaar ontvang wat ontwerp is sodat sy, ondanks die beperkte beweeglikheid van haar hande, weer kan speel.

Haar diep liefde vir musiek strek verder, en sy het oor die jare, voor én ná haar ongeluk, baie liedjies geskryf wat sy nooit die geleentheid gehad het om te toonset of te produseer nie.

Nou, met die ontwikkeling van kunsmatige intelligensie (KI)-programme wat die gemiddelde verbruiker toelaat om musiek te skep wat soms byna nie van musiek deur werklike kunstenaars onderskei kan word nie, het Dianne die geleentheid om haar musiek daar buite te kry.

“Mense dink dis net ‘n knoppie druk en dan het jy ‘n treffersnit, maar dis soveel meer as dit,” het sy gesê.


LEES OOK: Ekurhuleni urges traders to comply with permit conditions


Hoewel sy erken dat baie van die KI-produsente op sosiale media wel net ‘n knoppie druk en enige “nonsens” wat uitkom vrystel, is daar sommiges wat die werk insit om egte musiek met siel te maak.

Haar proses sluit in dat sy die liedjie, sonder die hulp van KI, uit haar eie hart skryf voordat sy vier tot ses maande neem om dit met die sagteware te toonset en te verfyn.

“KI het vir my ‘n wonderlike geleentheid gebring. Dit gaan nie net oor knoppies druk nie. As jy mense se siele wil raak, moet jy uit jou siel uit skryf, en dié wat nie hul musiek self skryf nie, se musiek het geen emosie of gevoel nie.

“Ons wat self skryf en net KI gebruik om dit te verwerk, skryf oor ons eie herinneringe, ervarings en daaglikse belewenisse,” het sy verduidelik.

“Nou, met musiek wat uit my hart geskryf is, het ek uiteindelik die geleentheid om dit te bewerk en uit te gee, en kan ek mense se siele aanraak.”


LEES OOK: Gauteng Traffic Police arrests suspects and recovers stolen vehicles


As ‘n kwadrupleeg wat ‘n rolstoel gebruik, is daar nie toeganklike musiekateljees tot Dianne se beskikking nie, en weens die koste van haar eie sorg is die ateljeehuur ook buite haar bereik.

KI laat haar toe om haar musiek steeds te vervaardig, ten spyte van hierdie struikelblokke. Dit het, volgens Dianne, ‘n hele nuwe wêreld oopgemaak en nuwe hoop gebring.

Sy vertel dat sy die afgelope tyd baie negatief en afgetakel gevoel het, en dat die vreugde van musiek maak haar lewensredder geword het. Sy het selfs betrokke geraak by ‘n hele aanlyn gemeenskap van ander wat KI-musiek vervaardig en uitreik.

Sy het toevallig tydens ‘n TikTok-regstreekse uitsending waaraan sy deelgeneem het, genoem dat sy verlam is en vertel wat KI-musiek vir haar beteken. Dit het ander deelnemers aangespoor om hul eie gestremdhede en siektes te openbaar.

Dit het Dianne verbaas, en sy het besef dat sy nie die enigste een is wat ‘n uitlaat gevind het vir die musiek wat sy in haar hart dra nie.


@jakkalsvibes

@sterreblink musiek ’n Stem wat nie opgegee het nie. Die afgelope jaar het Jakkals Vibes vir Dianne gehelp om self haar musiek te bou nie deur alles vir haar te doen nie, maar deur rigting te gee, sodat sy dit self kon ontdek, leer en skep. Nou het sy ’n droom: Om een liedjie #1 op die Afrikaanse top 20 te kry. Selfs al beteken dit sy moet Jakkals Vibes klop. Dis nie kompetisie nie. Dis groei. Dis moed. Dis iemand wat besluit het haar omstandighede bepaal nie haar toekoms nie. Gaan kyk na haar storie. Ondersteun Sterreblink Musiek. Laat ons wys wat moontlik is wanneer mense saamstaan. #creatorsearchinsigh #songwriter #afrikaans #JakkalsVibes

♬ Heeltemal stom – Jakkals Vibes

“Een van my grootste doelwitte is om op ‘n plaaslike radiostasie uitgesaai te word, of selfs vir ‘n onderhoud genooi te word om ander te bemoedig en te laat weet dat jou drome nie verdwyn wanneer jou mobiliteit beperk word nie,” het sy gesê.

Sy hoop ook dat ‘n kunstenaar een van haar liedjies sal opneem en dit in ‘n professionele produksie sal omskep om saam met ‘n orkes by ‘n konsert of kunstefees op te voer.

Haar droom om stamselterapie te ontvang, waaroor die Herald in 2024 berig het (Stamselterapie bring hoop vir Dianne, 24 Mei 2024), is gekortwiek toe sy uitgevind het dat sy eers ‘n behandeling moet ondergaan voordat sy die stamselterapie kan ontvang. Dié behandeling kos egter ook ‘n klein fortuin.

Hoewel dit nie die doel van haar musiek is nie, hoop sy dat dit internasionale aandag sal geniet en haar kan help om die behandelings te ontvang.

“Ek sal selfs gelukkig wees as dit net my pyn wegvat, al loop ek nie weer nie. Of dit so gebeur of nie, die musiek het weer nuwe vonk in my lewe gesit.

“Dit het my weer laat glo dat die lewe aangaan en dat jy nie net kan stop en gaan lê nie,” het sy gesê.

“Ek vra gereeld vir die Here: ‘Wat is die doel van my lewe?’ en Hy sê vir my dat dit gaan oor wat ek sê en hoe dit ander kan bemoedig.

“Daar is baie mense wat in die bed lê en sê: ‘Ek wil nie môre opstaan nie,’ en soms moet hulle net na my lewe kyk voordat hulle beter voel.”

Dianne het in kontak gekom met die bekende KI-musikant Jakkals Vibes, wat haar ondersteun en gelei het om te leer hoe om die sagteware te gebruik.

“Ek weet nou nog nie wie hy is nie, maar hy help altyd. Hy is ‘n wonderlike persoon.”

Dianne se musiek kan op Spotify onder SterreBlink Musiek gevind word, of op TikTok by @di_anne2.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button