Local sport

Brakpan o18 Valke wenners kyk terug op die pad na sukses

Die span het klein begin en gegroei in getal en span-gees deur die seisoen, waardeur hulle onoorwonne gestap het.

Die Brakpan Rugbyklub se junior o18-span het onlangs hul Valke-jeugliga se finale wedstryd met 39-34 teen Vereeniging gewen. Die Valke-jeugliga se finale wedstryd is op 23 September by Bosmanstadion beslis.

“Die telling op sy eie reflekteer egter nie die harde werk en uitsonderlike seisoen van die span nie,” sê die afrigter Norman Shamrock.

“Die telling het self onmoontlik gelyk tydens die eerste helfte, toe die span met 20 punte agter was, maar die spelers het hul bes gegee en oorwin,” het hy bygevoeg.

“Alles het begin met slegs drie spelers by die Maandag-oefening, slegs een week voor die eerste ligawedstryd,” het Shamrock verduidelik.

“Ek is deur die klubkomitee gedruk om te besluit of ons die span vir die liga moet inskryf.”

“Ek het vir hulle gesê: ‘Skryf in, ons sal speel en ons sal ’n span deurhaak!’ Ons het dadelik boodskappe uitgestuur en ouers genader. So het ons die spelers vir die span bymekaargekry,” verduidelik hy.

Spelers het vriende saamgebring en gou was daar ’n volledige span.

“Dian Botha van Hoërskool EG Jansen was van die begin af verbind tot die saak en het vier van sy spanmaats saamgebring.


Die o18 junior span van die Brakpan Rugby Klub lig die gesogte trofee omhoog. FOTO: verskaf.

“Wat dit nog meer spesiaal gemaak het, is dat ons die spelers toegelaat het om self te kies watter posisie hulle wou speel,” sê Shamrock verder.

Die fokus was daarop om die spel vir die span lekker te maak en niemand te forseer om ’n posisie te speel waarvan hulle nie hou nie. Daar was drie voorryspelers wat by die skool in die agterry gespeel het.

“Daar is weke lank rondgery om al die seuns by die oefeninge te kry, en aanvanklik het die span nie eers ’n borg gehad nie.”

“Op daardie eerste Saterdag in Boksburg teen Edenvale het ons nog nie eens truie gehad nie. Ons moes vinnig plan maak. Gelukkig het die o14-span se bestuurder en afrigters ingespring en hul truie vir ons geleen,” onthou Shamrock.

Die eerste wedstryd is 19-0 gewen, en by die volgende oefening was daar byna 30 spelers op die veld. In die daaropvolgende week teen Elsburg het Brakpan 34-5 gewen, en 33-7 in die wedstryd daarna teen die NWU.

“Daar was gesukkel met spelers wat rekordeksamen moes skryf, matriekafskeid bywoon of by skool-sewesrugby betrokke was. Die tye was styf, maar elke speler was toegewyd en het ’n plan gemaak,” sê Shamrock.


ALSO CHECK: Summer soccer tournament set to kickoff at Langaville Ext 1 sports ground


“Ons het nog steeds nie truie gehad nie, so ek het ’n boodskap gestuur aan Petrus Jansen van Vuuren en gevra of hy ons truie sou borg. Sonder enige twyfel het hy ja gesê en die geld direk oorbetaal,” sê Shamrock.

Met nuwe truie is Vereeniging B oorrompel met ’n telling van 28-0, en in die daaropvolgende halfeindstryd teen Benoni is die wedstryd met 40-10 in Brakpan se guns beklink.

“Die dag van die finaal het die seuns weer opgedaag en hul toewyding gewys om die liga te wen,” het afrigter Norman Shamrock gesê.

Drie van die spanlede, die kaptein, onderkaptein en ’n uitsonderlike speler, het die afgelope seisoen beskryf:

  • Kaptein Edrick Pienaar speel al 13 jaar rugby en het al die 10de, 12de en 8ste posisies gespeel, waarvan 8ste sy gunsteling is.

“Die seisoen het goed begin met ’n wen, en ons het niks verloor die hele seisoen nie,” sê hy.

Sy gunstelingoomblik in die hele seisoen was toe die span die beker kon lig.

“Ons was ’n baie goeie span, nie te na aan mekaar toe ons begin het nie, maar op die einde was ons soos broers,” verduidelik hy.

“Ons het nooit opgehou speel nie en het mooi saamgewerk. Almal het dieselfde mikpunt gehad: eindstryd wen. Ek het geleer dat jy nie baie mense nodig het in jou lewe nie, net daardie 23 ouens langs jou, en jy kan baie bereik.”


Die o18-span is agter: Duwan Dubery, Marco Smit, Raymond Visser, Isaac Sikhakhane, Leon Geldenhuys, Danie du Preez, Liven Cilliers en Amanda Shamrock. Middel: Bennie Pienaar, Cjaan Visser, Duncan van der Merwe, Louis Harding, Zandre Olivier, Diwan du Plessis, Jaco Engelbrecht, JJ Wolmarans en Hardus Stoltz. Voor: Oswald Schoeman, Ivan Botha, Dian Botha, Edrick Pienaar (kaptein), Awande Mabanga, Norman Shamrock (afrigter) en Kevin Kruger. Op stoel: AJ Oeschger (visekapte

Sy raad aan jong spelers wat net begin, is dat spelers hard moet werk en alles moet gee om hul drome te bewaarheid.

  • Onderkaptein Dian Botha speel flank en speel al 12 jaar rugby, waartydens hy al die posisies 6, 7, 8, 10, 12 en 15 gespeel het, maar nommer sewe is sy gunsteling.

“My seisoen het goed begin, want ek kon weer saam met al my ou vriende speel. Ons het wedstryd na wedstryd gewen en toe eindig dit in seker een van die beste eindes wat ’n seisoen kan hê,” sê hy.

Die oomblik wat hom bygebly het, is toe hy vir die eerste keer ’n eindstryd gewen het.

“Almal in die span het altyd ’n positiewe houding teenoor mekaar en die afrigters. Dit was lekker om saam met die span te speel, almal het goed oor die weg gekom,” sê Botha.

“Daar is niemand wat uitstaan nie, want ons span het net altyd ’n houding van nooit opgee gehad. Ek het baie verbeter as persoon, want ek het goeie mense om my gehad,” verduidelik hy.

  • Marco Smit, haker vir die span, speel al agt jaar rugby, maar slegs drie jaar klubrugby.

Hy het al nommers 2, 6, 7 en 12 op die veld gedraf, maar die tweede posisie van haker bly sy gunsteling. Vriendskappe wat deur die seisoen gebou is, het Smit bygebly.

“Ons het saamgespeel as ’n eenheid en almal het gespeel vir die doel om die beker te lig aan die einde van die seisoen,” sê hy.

“Ons was ’n uitsonderlike span, nie net vir die talent wat in die span was nie, maar ook as gevolg van goeie spanwerk en broederskap. As ’n speler kon ek my talente opskerp en as mens het my sportsmanskap verbeter, asook my houding teenoor ander.”

Sy raad aan jong spelers is dat ’n mens alles 100% moet doen om sodoende die vrugte daarvan te pluk.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Brakpan Herald in Google News and Top Stories.

Charma Du Plessis

As a journalist, my goal is to present the public with all the information so they can make informed decisions, and as far as possible represent their voices in my reportage.

Related Articles

Back to top button